Vordering word gemaak met die verhoging van die jaarlikse 2% vir Transnet-pensioenarisse

2015-05-06
Adv Anton Alberts

Groot vordering is reeds gemaak om die staande statutêre verhoging van 2% wat pensioenarisse van Transnet se twee fondse jaarliks ontvang, te verhoog indien die fondse se finansies dit toelaat, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Op ʼn skriftelike parlementêre vraag van adv. Alberts aan die minister van openbare ondernemings, Lynn Brown, oor vordering met die aangeleentheid en ʼn teikendatum, het die minister geantwoord dat ʼn reëlverandering daaroor reeds deur die fondse se raad van trustees goedgekeur is.

Dit is ook voorgelê aan Transnet se direkteursraad wat ook reeds die groen lig vir ʼn verandering gegee het.

Volgens Brown word die saak tans behandel tussen die departement van openbare werke en die tesourie waarna sy self en die minister van finansies die finale goedkeuring moet gee.

Adv. Alberts sê dit is goeie nuus dat die saak reeds so ver gevorder het. Hy sê die VF Plus sal die proses deurgaans monitor om seker te maak die verandering word suksesvol deurgevoer tot voordeel van die pensioenarisse.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403