VF Plus wil weet wie diesel aan Eskom verskaf

2015-03-20
Adv Anton Alberts

Eskom se vertrapping van die verbruiker kan nie langer geduld word nie en die VF Plus sal die beoogde verhoging van meer as 22% in kragpryse op elke manier moontlik teenstaan, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie.

Die VF Plus beplan onder meer ʼn protesoptrede by Eskom se hoofkantoor Megawatt Park in Sunninghill, en gaan daarop aandring dat inligting bekend gemaak word oor wie diesel aan Eskom verskaf, en teen watter prys.

Volgens adv. Alberts is dit ʼn gegewe dat die verhoging hoofsaaklik aangewend gaan word vir die aankoop van diesel wat die land se kragturbines aan die gang moet hou, en vrae word ‘wyd gevra’ oor wie bevoordeel word deur die dieselkontrakte.

“Die VF Plus is totaal gekant teen die verhoging, en besef deeglik dat dit gebruik gaan word om diesel teen gelaaide pryse van kaders aan te koop wat die krisis wil gebruik om die vinnig krimpende staatskas en die belastingbetaler met nog miljarde rande te melk.

“Die VF Plus gaan Eskom deur parlementêre vrae vra om bekend te maak wie sy dieselverskaffers is en sal ook die Wet op die Bevordering en Toegang tot inligting gebruik om dié inligting te bekom.

“Die Maatskappytribunaal gaan ook gevra word om Eskom se direkteure te ondersoek om vas te stel of daar ʼn verbreking was van hul vertrouensverpligting tenoor Eskom wat hul vergoeding aanbetref.

“Met ons protesoptrede by Megawatt Park, gaan die VF Plus ook eis dat Eskom se direkteure hul buitensporige en onverdiende bonusse terugbetaal.

“Soos met die onlangse belastingverhogings, is hierdie kragverhoging ʼn klap in die gesig van die publiek wat op hierdie manier gedwing word om te betaal vir die onbeholpenheid en vergrype van die staat en sy instellings,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403