VF Plus vra Valke om in besonder vyf aspekte van Openbare Beskermer se Prasa-verslag te ondersoek

2015-08-26
Adv Anton Alberts

Die VF Plus het vandag die Valke gevra om ondersoek in te stel na die bevindings van die Openbare Beskermer (OB) oor Prasa, en om veral te fokus op vyf aspekte van die verslag wat aandui dat misdade soos korrupsie en bedrog moontlik gepleeg is.

Die vyf aspekte is:

  1. Die tender aan Siyangena Technologies waar Lucky Montana se huis op ‘n twyfelagtige wyse deur Siyangena Technologies se regsadviseur gekoop is vir meer as dubbel die markwaarde (soos berig in Netwerk24);
  2. Die finansiering en aanstelling van ʼn media-maatskappy wat besit word deur Pule Mabe, ANC-parlementslid en lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, om ʼn tydskrif te begin;
  3. Die kontrak van R4 miljoen aan ʼn maatskappy wat bande het met ʼn PRASA-raadslid;
  4. Die betaal van huur vir ʼn gebou waar PRASA reeds uitgetrek het;
  5. Die vervanging van sewe skoonmaak-maatskappy se kontrakte met kontrakte vir twee ander maatskappy op ʼn bedenklike wyse.

Adv. Alberts sê dit blyk Montana het Prasa met minagting geregeer soos wat die ANC Suid-Afrika tans regeer. Die partytjie kan egter nie vir altyd aanhou nie en die dag van rekenskap het nou aangebreek.

“Uit die OB se verslag is dit duidelik dat geld op groot skaal vermors is en daar is ooglopende ongerymdhede wat moontlik net deur Montana verduidelik kan word. Sy wens om sy dag in die hof te kry, kan daarom heel moontlik bewaarheid word na ondersoek van die VF Plus se klagte,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403