VF Plus vra OVK en MRK om haatspraak en opsweping deur EFF te ondersoek

2014-02-12
Dr Pieter Mulder

Opruiende uitsprake en opsweping tot geweld teen wit mense onder die naam van Julius Malema se EFF is onaanvaarbaar en die VF Plus het vandag die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en die Menseregtekommissie (MRK) gevra om dit te ondersoek, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Volgens dr. Mulder doen plasings van opruiende EFF-baniere en inskrywings op die EFF se facebook-blad deurentyd die rondte in die sosiale media en skep dit ‘n klimaat vir geweld. Die tipe optrede is ‘n oortreding van die Grondwet en die Kieswet van Suid-Afrika.

Op baniere wat onder die naam en in die kleure van die EFF in die openbaar en tydens byeenkomste van die EFF vertoon is, word onder meer gesê:

 “A revolutionary must become a cold killing machine motivated by pure hate”;

“Honeymoon is over for white people in South-Africa”.

Wanneer die boodskappe naas mekaar vertoon word, is die afleiding duidelik dat die eerste boodskap gemik word teen wit mense in Suid-Afrika.

“Plasings, wat volgens aanduidings op die Facebook-blad van die EFF gedoen is, bevat grusame besonderhede oor opsweping om wittes aan te val, te martel, vroue te verkrag en gesinne uit te moor.

“Die Grondwet van die land bepaal duidelik in artikel 16(2)(a),(b) en (c) dat die aanstigting van geweld en die verkondiging van haat wat op ras en etnisiteit gegrond is, of die aanhitsing om leed te veroorsaak, teen die wet is.

“Die Kieswet (Wet 73 van 1998), lui dat ‘geen geregistreerde party of kandidaat’  taal mag gebruik of op so ‘n wyse optree dat dit geweld tydens ‘n verkiesing uitlok nie.

“Hierdie optrede van die EFF kan nie langer geduld word nie. Daar kan geen sprake van nasiebou wees in ‘n klimaat wat deur ongebreidelde haatspraak geskep word nie,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403