VF Plus vra OB om ondersoek te doen na twyfelagtige olietransaksie van R3 miljard van Openbare Beleggingskorporasie

2014-02-14
Adv Anton Alberts

Die VF Plus het die Openbare Beskermer (OB) versoek om ondersoek te doen na ‘n transaksie met ‘n oënskynlik bankrot oliemaatskappy waarin die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) glo sowat R3 miljard belê het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake.

Die OBK bestuur die staat se pensioenfonds.

Luidens ‘n mediaberig (Mail & Guardian, 13 Februarie 2014) is mnr. Kase Lawal, ‘n Amerikaner van Nigeriese afkoms en kennis van pres. Jacob Zuma, in beheer van die maatskappy.

Lawal, ‘n internasionaal-bekende sakeman, het glo lank reeds noue bande met ANC en het onderneem om miljoene te skenk aan Zuma se onderwystrust.

Volgens adv. Alberts dui alles daarop dat die transaksie twyfelagtig en uiters riskant is, en dat in die proses gedobbel word met miljarde rande van staatsamptenare. Camac het luidens die berig ontken dat hulle enige geld aan die ANC of enige ander politieke party gegee het.

“Die VF Plus wil weet presies wat aan die gang is. Alles dui daarop dat die maatskappy op die rand van bankrotskap is en daar bestaan die moontlikheid dat ‘n groot deel van die geld terug gekanaliseer kan word na die ANC se verkiesingsfonds.

“Volgens beskikbare inligting gaan die OBK sowat R3 miljard betaal vir ‘n aandeel van 30% van Camac Energy wat in beheer is van die Lawal-familie met 57% aandele.

“Camac ontgin tans net ru-olie in die Oyo-olieveld by Nigerië, en die produksie het luidens verslae gedaal van 25 000 vate per dag in 2009, tot ‘n huidige 2 000 vate per dag.

“Indien akkuraat, is dit duidelik dat Camac besig was om geldelik te sink en die belegging van die OBK het hom waarskynlik van ondergang gered en terselfdertyd ‘n fortuin besorg aan die Lawals.

“Die VF Plus versoek die OB dus om die hele transaksie te ondersoek, en ook te kyk na enige bevoordeling wat die ANC hieruit kan trek. Dit is duidelik dat die transaksie nie winsgewend kan wees vir die OBK nie, en dat dit ongeoorloof is en op bedrog neerkom.

“Indien die transaksie voortgaan sonder duidelike antwoorde, sal die VF Plus oorweeg om dringende hofaksie te neem om dit te stop” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403