VF Plus vra OB om klagte teen Tshwane-metropolisie se direkteur te ondersoek

2016-01-27
Adv Anton Alberts

Die VF Plus het die Openbare Beskermer (OB) gevra om drie klagte te ondersoek wat direk verband hou met die hoof van Tshwane-metro se polisiediens, sê adv. Anton Alberts, leier van die VF Plus in Gauteng.

Die klagte sluit in die beweerde ongerymdhede rondom die skut van voertuie en die vrystelling daarvan wat tot ʼn groot verlies vir die Tshwane-metro gelei het.

ʼn Forensiese verslag hieroor is reeds in September 2012 uitgereik waarin onder meer aanbeveel word dat stappe teen Moloko Racheku geneem word, dat die geld wat verlore gegaan het verhaal moet word en dat regstappe teen hom ingestel moet word. Daarvan het niks gekom nie.

Die tweede klag behandel die kwalifikasies van Racheku, en sy bevoegdheid om die pos van direkteur van metropolisie te beklee.

Die derde klag gaan oor die beweerde misbruik van mag met die aanstelling van aanklaers vir dissiplinêre verhore.

Adv. Alberts sê die klagtes is baie ernstig, veral gesien in die lig dat die polisiehoof van ʼn belangrike metro daarby betrek word.

“Dit is bekend dat die publiek se vertoue in die polisie afneem, en die VF Plus is besorgd daaroor. In baie gevalle is dit die optrede van enkelinge in die polisiediens wat groot skade aanrig, en die VF Plus het die aangeleentheid daarom na die OB verwys om spoedige klarigheid oor die aangeleentheid te kry,” sê adv. Alberts.

Vir nader inligting kontak:

Awie Erasmus

072 815 4053

Jennifer Rautenbach

072 217 1951