VF Plus-voorstelle om ANC se brouwerk met die land se geldsake reg te stel

2015-03-10
Adv Anton Alberts

Die ANC-regering het Suid-Afrika tot op die rand van die afgrond getransformeer, en die kredietgradeerder Standard & Poor’s se gradering van Suid-Afrika tot ʼn vlak net bo gemorsstatus getuig hiervan, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies.

Adv. Alberts het vandag in die parlementêre bespreking van die Staande Komitee se verslag oor die Oorweging van ʼn Fiskale Raamwerk en Inkomstevoorstelle gesê hierdie siening is hoegenaamd nie oordryf nie, en is gegrond op ʼn realistiese besinning oor die toekoms van die land.

Hy het gesê daar moet in die besonder kennis geneem word van die voorlegging van prof. Jannie Rossouw van UNISA aan die Staande Komitee.

“Prof. Rossouw en sy kollegas toon duidelik aan hoe Suid-Afrika voor ʼn fiskale afgrond staan. Daar sal dus drastiese veranderinge gemaak moet word om ʼn donker toekoms af te weer. Hierdie veranderinge sluit die volgende in:

  • Eskom moet gered word. Daar is genoeg bewyse dat dié organisasie in ʼn diepe krisis is. Eskom moet gedwing word om alle teen-produktiewe optredes soos sy planne om meer as ʼn duisend ervare wit ingenieurs af te lê, dadelik stop te sit. Die mense moet afgedank word net omdat hulle wit is. Dit mag dalk neerkom op soete wraak teenoor wittes, maar die prys wat die hele land hiervoor sal moet betaal, gaan hoog wees en op chaos uitloop;
  • Versterk die fiskus deur wanadministrasie en korrupsie te verwyder. Dit kan tot R100 miljoen per jaar bespaar. Die e-tolskuld kan in een paaiement afbetaal word. Die VF Plus sê daarom die belastingheffing om e-tol te betaal is onnodig
  • Die risiko’s wat entrepreneurs aangaan word nie genoeg waardeer nie. Belastingtoegewings moet aan dié mense gedoen word om te vergoed vir hul waagstukke om by te dra tot die ekonomie en om werk te skep;
  • Moedig internasionale handel aan, en fokus weer op die Europese Unie (EU) as die vernaamste handelsblok;
  • Moedig direkte buitelandse beleggings aan deur gemoedsrus en sekerheid te bied rakende private eienaarskap deur dit te bevestig as die hoeksteen van ons ekonomie. Dit beteken die ANC moet ophou om xenofobies teenoor buitelanders en rassisties teenoor wit boere op te tree;
  • Verslap arbeidswette wat net werkers beskerm en nie werkloses nie;
  • Hou op om geld en tyd te mors deur Afrikaanse minderheidsinstellings aan te val en af te takel net omdat dit Afrikaans is;
  • Hou op met kaderontplooiing en herontplooiing. Dit is onsinnig.

“Dit is verstaanbaar dat daar druk op die minister is om weens ideologiese redes die verkeerde roete in te slaan. Indien die minister en die ANC met hierdie verkeerde roete volhard, sal hulle nie later kan sê hulle is nooit gewaarsku nie,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403