VF Plus verwelkom OB se optrede in die PEU Capital slimmeter-sage

2015-11-12
Die Redaksie

Die VF Plus ondersteun die openbare beskermer, Thuli Madonsela, se oproep aan die burgemeester van Tshwane, Kgosientso Ramokgopa, om beweerde korrupsie rondom die omstrede slimmeters in die stad te kom verduidelik, sê Awie Erasmus, VF Plus-raadslid in die Tshwane-metroraad.

Ernstige bewerings rondom onreëlmatighede oor die slimmeter-kontrak tussen die Tshwane-munisipaliteit en Peu Capital het die wenkbroue uit verskeie oorde laat lig.

Daar word beweer dat daar reeds meer as R1,5 miljard se verliese is. Die deursigtigheid van die kontrak word nou bevraagteken.

“Ramokgopa sal redes moet verskaf hoekom sy kantoor nie die gevraagde inligting betyds aan die openbare beskermer verskaf het nie.”

Thuli Madonsela se optrede volg nadat die VF Plus ʼn klag in Julie vanjaar by die openbare beskermer ingedien het. Rdl. Erasmus het die besluit verwelkom. “Ons is bly dat hierdie ernstige saak nou aangespreek word.”

Die VF Plus moes noodgedwonge die openbare beskermer nader in aansluiting tot ʼn vorige klag hieroor omdat die Tshwane-raad nie bevredigende antwoorde aan die VF Plus kon verskaf nie.

Die VF Plus het die volgende vrae aan die Tshwane-raad gevra:

  • Die prosedure wat gevolg is met die toeken van die tender aan Peu Capital en of Peu aanvanklik voldoen het aan die vereistes om te kwalifiseer vir die tender;
  • Waarom die kontrak nie nagekom is nie (wat gelei het tot die kansellering daarvan);
  • Waarom so ʼn hoë tender aanvaar is terwyl dit veel goedkoper gedoen kon word;
  • Wie moet die skuld en kostes dra vir die kansellasie;
  • Het enige wanadministrasie plaasgevind en was daar ʼn vermorsing van staatsgeld;
  • Die ooreenkoms rakende die kansellasie-bedrag wat nog betaal moet word; en
  • Of politieke inmenging of invloed enigsins ʼn rol in die aangeleentheid gespeel het.

Rdl. Erasmus het sy kommer uitgespreek teenoor die Stad van Tshwane se onvermoë en onwilligheid om die belangrike inligting aan die openbare beskermer te verskaf. “Die onwilligheid van die stadsraad om met die openbare beskermer saam te werk is kommerwekkend en dit blyk dat daar wel wanadministrasie en bedrog betrokke is.”

 

Awie Erasmus

Raadslid: Tshwane Metro Raad

Tel: 072 815 4053

awieerasmus@gmail.com