VF Plus teen metro se busplan in Lynnwood

2015-08-14
Die Redaksie

Ondeurdagte projekte wat nie behoorlik nagevors is nie, kan nie op die belastingbetaler van Tshwane afgedwing word nie, sê rdl. Awie Erasmus, VF Plus stadsraadslid van Tshwane metroraad.

Rdl. Erasmus het gisteraand saam met bekommerde inwoners ‘n openbare vergadering in die Laerskool Lynnwood-skoolsaal bygewoon. Die vergadering het gefokus op die permanente sluiting van ‘n baan in Lynnwoodweg om plek te maak vir die nuwe A Re Yeng-busstelsel.

“Inwoners was duidelik omgekrap, veral omdat die Tshwane metro besluit het om nie die straat te verbreed soos aanvanklik beplan is nie. Dit sal volgens hulle mening te duur kos om ‘n addisionele baan by te voeg”, aldus rdl. Erasmus.

Rdl. Erasmus het gedurende die vergadering foute uitgewys en redes gegee hoekom die baan nie volhoubaar is nie.

Die redes is as volg:

  • Daar is nie ‘n behoorlike studie gedoen rakende die netto finansiële- en ekonomiese impak wat die busstelsel sal hê nie.
  • Die stelsel is nie uniek vir Pretoria-Oos en sy behoeftes ontwerp nie. Die stelsel-model is gebaseer op buitelandse stelsels soos in Perth en Holland.
  • Geen melding is gemaak van hoe die nuwe busbaan nooddienste sal beïnvloed nie.
  • Daar kan nie van die belastingbetaler verwag word om taxi-eienaars geldelik te vergoed vir moontlike verliese omrede hulle nie die bepaalde roete mag gebruik nie.

“Die Tshwane metro kan nie nog ‘n skandaal bekostig nie. Ons het nog nie eers die voorafbetaalde meterskandaal oorleef nie en nou word die belastingbetaler met ‘n nuwe projek gekonfronteer.

Tshwane het volhoubare oplossings nodig, nie kitsoplossings soos die voorgestelde busbaan nie.

“Die VF Plus is nie teen openbare vervoer nie. Openbare vervoer is ‘n sleutel tot ‘n gesonde ekonomie, maar die implementering van groot projekte soos A Re Yeng moet volhoubaar en tot voordeel van die gemeenskap wees,” sê rdl. Erasmus.

 

Awie Erasmus

Raadslid: Tshwane Metro

Tel: 072 815 4053

awieerasmus@gmail.com