VF Plus stem nie saam met voorstel om die Afrikaner se geskiedenis na ‘n ‘Boere Jurassic Park’ te skuif nie

2015-04-22
Dr Pieter Mulder

Die VF Plus stem nie saam met vandag se voorstel van die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, om die Afrikaner se geskiedenis en gedenkwaardighede na ʼn ‘Boere-Jurassic Park’ te skuif nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder sê die twintig voorstelle wat die minister vandag genoem het, kom van die raadgewende gesprek verlede Vrydag by Freedom Park in Pretoria. Die gesprekvoering was om voorstelle aan te hoor, en dit kan daarom nie as besluite beskou word nie, maar as blote aanbevelings.

Volgens dr. Mulder is daar wel voorstelle genoem wat in die belang van alle partye is, soos streng polisieoptrede teen mense wat standbeelde beskadig. Hy sê die VF Plus sal dit steun, maar verwerp enige voorstel dat ʼn deel van die Afrikaner se geskiedenis agter slot en grendel weggebêre moet word.

Hy sê die VF Plus het vyf voorstelle in die verband aan die minister genoem, en sal ook enige voorstel vir die byvoeging van gedenktekens op meriete ondersteun vir diegene wie in die verlede misken is indien dit geskiedkundig akkuraat is.

Die vyf voorstelle is:

  1. Die beskadiging van standbeelde en kultuurskatte is ʼn misdaad en die polisie moet streng hierteen optree;
  2. Leiers van alle kante speel ʼn belangrike rol in die goeie verhouding tussen mense en moet ʼn voorbeeld stel met hul uitsprake;
  3. Suid-Afrikaners moet deeglik opgevoed word in ʼn gebalanseerde gesiedenis wat alle kante gelyk behandel. Die geskiedenis mag nie eensydig misbruik word om mense vir vandag se politiek te mobiliseer nie;
  4. Beelde moet bygevoeg word om ʼn balans te bring en tevredenheid onder almal te verseker. Die wegneem van beelde gaan net wrywing veroorsaak; en
  5. Hierdie sake moet met wedersydse empatie en met inagneming van mekaar se gevoelens bespreek word.

“Dit is duidelik dat die aandeel wat minderhede soos die Afrikaner gehad het in die opbou van die land, asook sy belasting goed genoeg is, maar dat sy erfenis en kultuur nie welkom is nie. Dit is nie aanvaarbaar nie,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670