VF Plus spog met nog 'n toevoeging vanaf die DA

2016-03-03
Adv Anton Alberts

Nog ʼn persoon wat diep spore in die Demokratiese Alliansie (DA) getrap het, me. Gerda Senekal van Emfuleni, het haar aangesluit by die stroom mense wat van die DA wegbreek en ʼn nuwe tuiste by die VF Plus vind, sê adv. Anton Alberts, LP en leier van de VF Plus in Gauteng.

Me. Senekal het in 2004 by die DA aangesluit en het gedien as raadslid vanaf 2006 tot 2010. Vanaf 2008 het sy ook gedien as hoofsweep van die DA in Emfuleni.

Volgens me. Senekal het sy haar bande met die DA verbreek omdat sy haar onder meer nie kon vereenselwig met die politieke rigting wat dié party inslaan nie, en in die besonder sy steun aan regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging wat tot groot nadeel strek van wit en bruin minderhede.

Me. Steenkamp se werkywer en suksesse is so wyd bekend in haar omgewing dat sy heel tereg die titel van ‘Ystervrou’ in die gemeenskap verwerf het.

Adv. Alberts sê die VF Plus is trots daarop dat mense van die kaliber van me. Senekal hulle toenemend by die VF Plus skaar.

“Die VF Plus regoor Suid-Afrika spog nou byna weekliks met die toevoeging van nuwe lede wat voorheen hoë poste in die DA beklee het, en uitgeblink het as leiers in hul gemeenskappe.

“Die reaksie op me. Senekal se besluit om voortaan onder die vaandel van die VF Plus te werk, is oorweldigend. Ons verwelkom haar met ope arms en glo dat sy ʼn groot verskil sal maak vir die mense van Emfuleni,” sê adv. Alberts.