VF Plus skop verkiesingsveldtog vir die 2016-plaaslike regeringsverkiesing af met werkswinkel op Hartenbos

2014-06-11
Dr Corné Mulder

Die VF Plus begin hierdie naweek reeds in alle erns met sy beplanning en voorbereiding vir die munisipale verkiesing in 2016 met ‘n werkswinkel op Hartenbos in die Suid-Kaap.

Verteenwoordigers van die party uit die hele Wes-Kaap sal die byeenkoms op 13 en 14 Junie bywoon. Dit word gehou by die bekende Adler’s Nest -gastehuis van mnr. Hein Marx, VF Plus-streeksverteenwoordiger vir Eden in die Suid-Kaap.

Dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus en leier in die in die Wes-Kaap, sal as voorsitter optree.

Dr. Mulder sê die VF Plus wil hiermee sy erns te kenne gee om met toewyding en ywer aan die verkiesing deel te neem en wil deur behoorlike strukturering en beplanning seker maak dat die party met die verkiesing sterk verteenwoordiging in plaaslike regerings in die provinsie kry.

Hy sê dit word ook gedoen om ‘n duidelike boodskap aan voornemende kiesers in die provinsie te stuur dat die VF Plus nie op sy louere gaan rus met die mandaat wat hy in die onlangse algemene verkiesing gekry het nie.

“Ons nooi daarom almal in die provinsie om deel te raak van die VF Plus se stryd teen onder meer die diskriminerende beleid van regstellende aksie wat ook in die Wes-Kaap geld en wat dienslewering benadeel.

“Die VF Plus gaan regdeur die land met verskerpte aksies kom om ‘n groot impak in die 2016-verkiesing te maak om sodoende toe te sien dat skoon regering en dienslewering bevorder word,” sê dr. Mulder.

Die VF Plus se missie sluit ook selfbeskikking vir die Afrikaner in en die VF Plus in die Wes-Kaap streef daarom ook na outonomie vir die Wes-Kaap. Dit sal een van die besprekingspunte op die agenda wees.

Indien u aktief betrokke wil raak in die Wes-Kaap met die oog op die komende verkiesing, kontak mnr. Hendrik Pistorius, provinsiale koördineerder by tel: (021) 403 3490, sel: 082 857 7764, e-pos: weskaap@vfplus.org.za.

 

Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403