VF Plus se stryd teen e-tol kry momentum met landwye petisie-veldtog en toetrede van die Nasionale Verbruikerskommissie

2014-01-22
Adv Anton Alberts

Die Vryheidsfront Plus het as deel van sy deurlopende veldtog teen die e-tolstelsel nou ‘n veldtog geloods waardeur die publiek klagtes oor die e-tol by die Verbruikerskommissie kan gaan indien.

In ‘n positiewe verwikkeling het die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) bevestig dat hy klagte rondom die e-tol gaan ondersoek na aanleiding van ‘n versoek van die VF Plus  in hierdie verband.

Volgens adv. Alberts is twee doelgerigte webwerwe vir Afrikaans- en Engelstaliges vir die klagtes geskep. Die Afrikaanse webwerf is: www.tolhekpetisie.org.za en die Engelse weergawe is www.tollgatepetition.org.za.

“Ons het nou ‘n instrument en kanaal geskep vir almal wat e-tol-probleme ondervind en daarteen gekant is. Daardeur kan ons ook bewys die stelsel werk nie en verdere druk op die regering plaas.

“Die VF Plus se stryd teen e-tol kom ‘n lang pad, en ons sal daarmee aanhou tot ons ‘n oorwinning vir alle padgebruikers behaal het,” sê adv. Alberts.

Oor die NVK se versoek dat partye onderling moet probeer om ‘n probleem op te los voordat ‘n klagte by die kommissie ingedien word, sê adv. Alberts hy neem kennis daarvan, maar dat die publiek desperaat was aangesien hulle op geen ander wyse gehelp kon word nie.

In sy stryd teen e-tol het die VF Plus tot op hede reeds:

 

  • Met pres. Jacob Zuma gekorrespondeer oor die wettigheid van die E-Tolwet;

  • ‘n Saak is in die Noord-Gautengse Hooggeregshof  gevoer;

  • ‘n Formele klag met ‘n dringende versoek om alle advertensies rakende die Gautengse e-tol in die media stop te sit, is voorgelê aan die Gesagsliggaam vir Reklamestandaarde; en

  • Die VF Plus het alle ander pogings gesteun wat daarop gemik is om e-tol te stuit.

     

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403