VF Plus sal volhou met stryd teen E-Tolwet

2015-06-22
Adv Anton Alberts

Die VF Plus stem saam met die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) dat die ondernemings van adjunkpresident Cyril Ramaphosa nie strook met die regulasies oor nuwe e-tol-tariewe wat verlede week in die Staatskoerant gepubliseer is nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Volgens adv. Alberts moet die regulasies eers deur ʼn openbare konsultasieproses gaan alvorens die gewysigde Sanralwet na die parlement verwys word vir insae.

Hy sê die VF Plus sal dan sy parlementêre rol speel deur die verskille tussen die adjunkpresident se voorgestelde tariewe en die regulasies uit te lig en die ANC daarmee te konfronteer.

Die gewysigde Sanralwet wat hierdie regulasies moontlik maak, was tydens sy opstelstadium in die parlement juis gewysig danksy voorleggings deur die VF Plus om seker te maak dat voorsiening gemaak word vir verpligte openbare deelname en voorleggings voor die parlement.

“Die VF Plus sal dan in die parlement gebruik maak van hierdie geleentheid wat hyself geskep het om die regulasies te behandel om seker te maak dit reflekteer wat adjunkpresident Ramaphosa gesê het.

“Ander aspekte wat ook bespreek gaan word, is die feit dat korting van 60% gegee gaan word aan mense wat uitstaande rekeninge het, maar dat dit nie geld vir mense wat reeds betaal het nie. Dit is ʼn duidelike vorm van arbitrêre diskriminasie wat aangespreek moet word.

“Uiteindelik glo die VF Plus steeds dat die hele e-tol-stelsel ten spyte van die toegewings nie enige bestaansreg het nie aangesien dit enersyds nie legitiem is in die oë van Gautengers nie, en omdat dit ongrondwetlik is,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403