VF Plus sal Transnet-krediteure en Ouditeur-generaal inlig oor pensioenarisse se hofsaak teen Transnet

2014-03-31
Adv Anton Alberts

“Die VF Plus sal, na aanleiding van ‘n antwoord op ‘n vraag in die parlement van die party aan die minister van Openbare Ondernemings, ‘n skrywe rig aan elke entiteit wat aan Transnet lenings toegestaan het vir infrastruktuur uitbreidingsprogramme, om hul in kennis te stel van die R80 miljard eis teen Transnet en die regering. Die party sal ook die drie internasionale kredietagentskappe naamlik, Moody’s, Standard & Poor en Fitch inlig dat Transnet pensioenarisse ‘n klas-aksie teen Transnet en die regering ingestel het,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor Openbare Ondernemings.

“Hoewel die soort lenings wat hierdie organisasies aan Transnet toegestaan het nie aan die Kredietwet onderhewig is nie, omdat die lenings aan staatsorgane toegestaan is, sal die instansies tog ernstig moet
besin oor die moontlikheid dat hul onnodige risiko’s loop in die lig van die hangende hofsaak. Daarbenewens sal die feit dat hul nou kennis dra van die uitgawes tesame met die hangende hofsaak die kredietgraderingsagentskappe noop om opnuut na Transnet en die regering se kredietstatus te kyk,” meen adv. Alberts.

“Die VF Plus is van mening dat die regering en Transnet se optrede om voort te gaan met die aangaan van lenings, terwyl Transnet-pensioenarisse geweldig ly weens hul swak pensioenvoordele wat nie reggestel word deur die onderneming nie, roekeloos is. Die Transent-pensioenarisse, met die hulp van die VF Plus, is gedwing om regstappe teen Transnet en die regering te neem. Tydens hierdie proses is die grootskaalse plundering van die pensioenfondse ontdek.

“Indien Transnet sou voortgaan met die uitbreidingsprogram, moet die onderneming die eerbare ding doen en die fondse aanvul of ‘n vernietigende hofbevel in die gesig staar. Die eerste deel van die hofsaak, naamlik die sertifisering van die pensioenarisse om as ‘n klas op te tree, sal binnekort aangehoor word. Indien die pensioenarisse met hierdie stap slaag, sal Transnet nie meer enige lenings kan aangaan nie weens die feit dat die eis dan tentatief gevestig en beregbaar is. Daar sal dus ‘n prima facie-saak wees wat deur die pensioenarisse gewen kan word.

“Hierdie feit is deur die minister van openbare ondernemings self in ‘n antwoord op ‘n vraag van die VF Plus in die parlement erken - dat Transnet se vermoë om skuld aan te gaan uiters verswak sal word indien die eerste aansoek tot ‘n klasaksie deur die hof toegestaan word.

“Die VF Plus neem ook tans die nodige stappe om die ouditeur-generaal (OG) in te lig oor die Transnet-pensioenarisse se hofsaak teen Transnet en die regering. Die party gaan die OG vra of Transnet en/of die regering die pensioenarisse se saak aan hom blootgelê het vir oorweging. Die party sal ook van die OG verneem of, in die geval waar lenings aangegaan is, daar aan die Finansiële Bestuurswet voldoen is,” sê adv. Alberts.

 

 

Kontaknommer: 082 391 3117