VF Plus sal klag indien by Verbruikerskommissie oor e-tolrekeninge

2014-01-20
Adv Anton Alberts

“Die Vryheidsfront Plus gaan ‘n klag by die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) indien oor die probleme wat verbruikers en inwoners van Gauteng ervaar met e-tolrekeninge. Hierdie klagte is deel van die party se voortgesette opposisie teen tolpaaie en die hulp wat die party aan padverbruikers bied in hul  stryd teen die misbruik van die stelsel deur SANRAL,” sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Die party gaan namens verbruikers die NVK versoek om te kyk na onder andere die volgende probleme wat padverbruikers tot hede ervaar het:

 

  • aanmanings wat op ‘n onregmatige wyse versend word nadat kontakbesonderhede van verbruikers vanaf onwettig-verkrygde databasisse bekom is;

     

  • verkeerde en onbehoorlike uiteensetting van kostes in rekeninge wat aan verbruikers gestuur word;

 

  • rekeninge en aanmanings wat verkeerdelik aan persone gestuur word wat nie van die tolpaaie gebruik gemaak het nie;

 

  • die aanbied van ‘n ongevraagde produk en diens en die dwing van verbruikers om e-tolskyfies te koop weens hoër pryse vir ongeregistreerde verbruikers;

 

  • die verskil in tariewe wat in die Afrikaanse en Engelse weergawes van regulasies gehef word; en

 

  • die dubbel-betaling wat vereis word van persone wat ander tuie sleep, soos woonwaens en sleepwaens.

Die VF Plus gaan tydens ‘n mediakonferensie hierdie week ‘n webblad loods waar verbruikers die probleme wat hulle met SANRAL-rekeninge ervaar kan aanmeld. Die VF Plus sal die verbruikers dan behulpsaam wees met die indien van klagtes by die Verbruikerskommissie. Persone kan die party egter tans by help@vf.co.za kontak vir navrae met hul probleme met SANRAL-rekeninge.

 

Kontaknommers:  082 391 3117 / 083 419 5403