VF Plus sal hom beywer vir nuwe wetgewing wat fluitjieblasers beskerm

2015-01-29
Adv Anton Alberts

Die VF Plus gaan hom beywer vir wetgewing om fluitjieblasers beter te beskerm na skokkende inligting wat die Instituut vir Interne Ouditeurs (IIO) Woensdag bekend gemaak het oor die omvang van korrupsie en die viktimisering van fluitjieblasers, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Luidens ʼn berig op die aanlynblad fin24, het die IIO met die bekendstelling van die Forum Teen Intimidasie en Etiese Praktykvoering bevindinge bekend gemaak wat daarop dui dat korrupsie die land die afgelope twintig jaar sowat R700 miljard gekos het.

Om sake te vererger, blyk dit dat fluitjieblasers toenemend geïntimideer en verhinder word om na vore te kom met inligting oor ongerymdhede. Die doel van die forum is daarom om sy lede te adviseer oor die aanmelding van korrupsie, en hoe om op te tree in gevalle van intimidasie.

Adv. Alberts sê die omvang van die syfers is skokkend en die realiteit is dat die bedrag waarskynlik heelwat meer is juis aangesien baie mense te bang is om na vore te kom met inligting.

Hy sê die fluitjieblasers-wet (Public Disclosures Act) is ontoereikend aangesien fluitjieblasers meermale sake moet aanmeld by hul eie gesagstrukture, oor hul eie gesagstrukture wat dan ook veronderstel is om hulle te beskerm.

“Daar bestaan geen misdryf of werklike sanksie in die wetgewing om gesagstrukture aanspreeklik te hou wat fluitjieblasers nie beskerm nie. Bestaande wetgewing is niks anders nie as lippediens aan ‘n idee om ‘n veilige omgewing vir fluitjieblasers te skep. Dit het geen substansie nie.

“Die wet moet verander word om diegene wat fluitjieblasers moet beskerm, strafregtelik en finansieel aanspreeklik te hou indien intimidasie voortduur. Tot dan is fluitjieblasers uitgelewer aan wolwe in skaapsklere.

“Dit is duidelik dat die ANC-regering buiten lippediens niks aan korrupsie wil doen nie, en daarom sal die VF Plus kyk hoe die wetgewing verander kan word deur middel van ‘n Privaatlid Wetsontwerp,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommer: 082 391 3117 / 083 419 5403