VF Plus sal die moontlikheid van strafregtelike klagte teen Lucky Montana en Prasa-hoës ondersoek na Openbare Beskermer-verslag

2015-08-24
Adv Anton Alberts

Die VF Plus sal die verslag van die Openbare Beskermer (OB) se ondersoek na ongerymdhede by Prasa bestudeer, en sal strafregtelike klagte by die Valke indien aangesien dit blyk dat die wet in sommige gevalle oortree is, sê Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

In haar verslag getiteld ‘Derailed’ wat vanmiddag bekend gestel is, spreek die OB, Thuli Madonsela, haar ‘bedenkinge’ uit oor elke kontrak van meer as R10 miljoen wat Prasa sedert 2012 onder Lucky Montana as uitvoerende groepshoof van Prasa toegeken het.

Sy vra ʼn forensiese ondersoek na elk van hierdie transaksies, en beveel tugstappe aan teen Montana en ander senior amptenare van Prasa oor die toekenning van tenders wat saam meer as R2 miljard beloop.

Adv. Alberts sê die VF Plus is tevrede met die ondersoek en aanbevelings, aangesien dit lyk asof die OB ʼn baie deeglike ondersoek gedoen het.

“Dit is vir ons duidelik dat Montana Prasa regeer het soos die ANC Suid-Afrika regeer waar vriende en kaders bevoordeel word en waar korrupsie aan die orde van die dag is. Dit blyk dat daar duidelike korrupsie plaasgevind het, en indien wel sal die Valke gevra word om in te gryp,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403