VF Plus-reaksie op pres. Zuma se staatsrede

2014-02-13
Dr Pieter Mulder

Soos voorspel was die president  se staatsrede hoofsaaklik ‘n spoggery oor die verlede met min klem op die toekoms. As dit so goed in die land gaan as wat die president voorgee, waarom brand so baie dorpe en is daar so baie water-, riool- en infrastruktuurprobleme? Suid-Afrika kan nie wag tot na die verkiesing voor hierdie ernstige krisisse aangespreek word nie.

Die VF Plus stem met die president saam as hy die mynbousektor aanspreek oor die skade wat die stakings tans aan die land doen. Beleggers is besig om stil-stil hulle geld uit Suid-Afrika te onttrek terwyl mynvakbonde op ‘n selfsugtige wyse net aan hulleself dink. Enige stappe om die arbeidswetgewing te hersien of maatreëls om werkers terug by die werk te kry, sal deur die VF Plus ondersteun word. Tans is daar tot ses stakings ‘n dag in Gauteng alleen waar Gauteng die ekonomiese enjinkamer van Suid-Afrika is.

Die president se voorstelle om meer werkgeleenthede te skep en die ekonomie te stimuleer was presies dieselfde pogings as in die verlede. As dit nie in die verlede gewerk het nie, waarom sal dit nou slaag om die hoeveelheid werksgeleenthede te skep soos die president dit voorsien?

Die daarstelling van ‘n sentrale tenderraad word verwelkom as ‘n poging om korrupsieprobleme op te los. So ‘n tenderraad mag lei tot groter bottelnekke maar as dit verdere korrupsie en die onregmatige bevoordeling van individue kan voorkom, sal dit ondersteun word.

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403