VF Plus-reaksie op premier van die Vrystaat se Openingsrede

2014-02-21
Wouter Wessels

Premier Ace Magashule se openingsrede was propvol verwysings na die verlede en slegs ‘n verkiesingstoespraak, soos wat die VF Plus voorspel het.

Die premier het sy bes probeer om ‘n suikerlagie om die baie bitterpil wat die inwoners van die Vrystaat daagliks moet sluk, te sit. Sy toespraak het ‘n totale ander prentjie van die Vrystaat as die werklike, huidige krisisse en probleme geskets. Die premier leef in totale ontkenning van die ernstige probleme wat die Vrystaat tans ervaar.

Die premier sê byvoorbeeld dat die Vrystaat ‘n baie veilige provinsie is. Dit terwyl die Vrystaat die hoogste toename (22%) van moord en gewelddadige misdaad in Suid-Afrika toon. Die premier spog met ‘n suksesvolle anti-korrupsieveldtog. Dit terwyl dit ooglopend is dat vele produkte en dienste deur die Vrystaatse regering teen opgeblaasde pryse aangekoop word. ‘n Voorbeeld hiervan is die sowat R40 miljoen wat vir ‘n webwerf betaal is en ook die suiwelprojek in Vrede. Die premier verwys ook na suksesvolle werkskepping, maar voeg nie by dat die werke waarna hy verwys slegs tydelik van aard is/was nie. Van die nege provinsies in Suid-Afrika het die Vrystaat die hoogste toename in werkloosheid die afgelope vyf jaar getoon.

Dit is kommerwekkend dat die premier aangedui het dat hy geen gedetailleerde program van aksie vir die opkomende jaar gaan aankondig nie, aangesien hierdie program eers na afloop van die verkiesing in Mei aangekondig sal word. Dit terwyl die Vrystaat brand met diensleweringsbetogings, die in duie stort van infrastruktuur en die gesondheidsisteem.

Die premier en sy ANC-regering laat die inwoners van die Vrystaat gruwelik in die steek.  Sy beheptheid met apartheid en regstellende aksie ruïneer die toekoms van die Vrystaat.  Die premier moet eerder doen wat eerbaar is en bedank.

 

082 674 6670