VF Plus reaksie op Gauteng Provinsiale Begrotingstoespraak

2015-03-03
Die Redaksie

Die Gauteng se LUR vir Finansies, Barbara Creecy, het vandag tydens ‘n sitting van die Gauteng Wetgewer, die provinsie se jaarlikse begroting ter tafel gelê.

Die VF Plus stem saam dat onnodige uitgawes in die provinsie drasties gesny moet word en daarom verwelkom die party dit dat die huur van fasiliteite vir onthale en onnodige saamtrekke slegs 21% van die begroting uitmaak, reiskostes slegs 1,5%, onthaalkostes slegs 9%, advertensies 0.5% en administrasiekostes slegs 25%. Wat die VF Plus wel bekommer, is dat daar slegs 7% van die begroting aan kommunikasie toegestaan word. Kommunikasie in die provinsie tussen departemente en munisipaliteite is nie na wense nie en die VF Plus voorspel dat hierdie tendens net nog erger gaan word.

Die VF Plus voel dat die Premier se aankondiging verlede week oor infrastruktuur-ontwikkeling en ander projekte, veels te duur gaan kos om al sy projekte van stapel te laat stuur en dat van hierdie projekte weereens in die stof gaan byt aangesien ‘n begroting van R95.3 biljoen net sovêr kan strek.

Die VF Plus is verder bekommerd dat die begroting wat vandag voorgelê is, nie in alle gemeenskappe in Gauteng gespandeer gaan word nie. ‘n Klein deel van Gauteng se bevolking is belastingbetalers maar die begroting word gespandeer op gebiede waar die belastingbetalers nie woonagtig is nie. Dus gaan die belastingbetalers van die provinsie geen voordeel uit hierdie begroting trek nie.

“Die begroting word slegs in voorheen-benadeelde gebiede spandeer en die ANC regering in die provinsie sal moet besef dat die melkkoei besig is om op te droog en nie meer vir veel langer gemelk sal kan word nie”, sê Philip van Staden, VF Plus LPW Gauteng.

 

Philip van Staden LPW Gauteng

Tel: 084 015 4722

Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za