VF Plus-raadslid ervaar self brutaliteit van mense in uniform

2015-08-07
Die Redaksie

ʼn Vroulike raadslid van die VF Plus en nasionale voorsitter van die party se vrouekomitee, het klagte van opsetlike saakbeskadiging en onregmatige aanhouding by die polisie ingedien na ʼn nagmerrie-ondervinding met mense in uniform die afgelope week.

Volgens De Lange het ʼn onderonsie by ʼn winkelsentrum in Langlaagte ontstaan nadat sy geweier het om geld te gee aan ʼn persoon wat hom as ʼn karwag voorgedoen het.

“Die man was uiters aggressief en het my verhinder om te ry. Binne minute was daar etlike mense in uniform – vermoedelik sekuriteitspersoneel, om my voertuig saamgedrom.

“Ek het myself toegesluit in my voertuig en my voorruit is in ʼn stadium met ʼn tweerigting-radio stukkend geslaan terwyl ek gedreig en beledig is. Dit was voorwaar ʼn nagmerrie wat ek niemand toewens nie,” sê De Lange.

Sy sê dit is betreurenswaardig dat sulke voorvalle oënskynlik aan die orde van die dag is terwyl verskeie organisasies - ook die polisie - met bewusmakingsveldtogte oor geweld teen vroue besig is.

Die aktrise, Lele Ledwaba van Rhythm City, is luidens mediaberigte onlangs so brutaal aangerand deur ʼn Johannesburgse metrobeampte dat sy in die hospitaal beland het weens haar beserings.

De Lange sê die VF Plus se nasionale vrouekomitee is besig om ʼn dringende versoekskrif aan die minister van polisie voor te berei om hierdie tipe geweldpleging teen vroue te ondersoek.

 

Amanda de Lange

Vryheidsfront Plus-raadslid en Wesrandse streekleier

Kontak: 071 604 9498