VF Plus opponeer beoogde veranderinge aan Aarto-Wet om e-tolrekeninge in Aarto-boetes te omskep

2015-12-29
Adv Anton Alberts

Dit is onaanvaarbaar dat die regering die feestyd misbruik om stilweg die Aarto-Wet te probeer verander wat daarvoor voorsiening sal maak dat e-tolrekeninge ingevolge dié wet afdwingbaar sal raak, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Adv. Alberts sê ʼn kennisgewing om die publiek se kommentaar hieroor te vra, is op 7 Desember in die Staatskoerant gepubliseer. Die sperdatum vir kommentaar is 6 Januarie. Aarto is die noemnaam vir die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padoortredings.

Volgens adv. Alberts spreek dit vanself dat die publiek se reaksie hierop oor die feestyd baie beperk sal wees. Hy sê die VF Plus sal daarom vra dat die proses vir openbare deelname verleng word. ʼn Beroep word nogtans op die publiek gedoen om hul teenkanting teen die voorgestelde veranderinge voor die sperdatum uit te spreek.

Dit kan gedoen word deur ʼn e-pos te stuur aan mnr. Sello Mokubyane by MokubyaS@dot.gov.za, of aan adv. N. Thoka by Thokan@dot.gov.za. Beide is van die departement van vervoer.

“Aarto is egter ‘n gefaalde stelsel en daar bestaan tot vandag toe nog geen Aarto-howe nie. Dit beteken dat mense verhinder sal word om hul grondwetlike reg uit te oefen deur hulself in ‘n hof te verdedig.

“Voorts is Aarto ‘n gefaalde stelsel aangesien die toetsfases in Johannesburg en Pretoria geensins padveiligheid, wat die hoofdoelwit van Aarto is, verbeter het nie, maar eerder ‘n teelaarde vir korrupsie en magsvergrype geskep het.

“Die VF Plus is van mening dat die e-tolrekeninge onwettig is weens die nie-sertifisering daarvan en Aarto sal niks daaraan verander nie. Trouens die gronde van onwettigheid word net meer met Aarto in die prentjie.

“Wat die VF Plus aanbetref, is dit ongrondwetlik om die nie-betaling van e-tolrekeninge te klassifiseer as ‘n verkeersoortreding in terme van Aarto. Die nie-betaling van e-tolrekeninge het niks te make met verkeersveiligheid nie.

“Die VF Plus sal in 2016 die mislukte Aarto-stelsel aanvat en sal hom daarvoor beywer om dit saam met die e-tolstelsel tot ‘n val bring,” sê adv. Alberts.

Hier volg ʼn kort uiteensetting van die Nasionale Padverkeerswet en Aarto wat die aangeleentheid in perspektief plaas en terselfdertyd dien as regsadvies rakende die verskeie vorme van wetgewing ter sprake by verkeersoortredings.

Die Nasionale Padverkeerswet: Hierdie wet kriminaliseer verkeersoortredings deur boetes en in uiterste gevalle arrestasie. Hierdie wet maak dus ook gebruik van die Strafproseswet om oortreders te vervolg. Die wet maak ook voorsiening vir die weerhouding van voertuiglisensies indien boetes nie betaal word nie.

Die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padoortredings (Aarto): Hierdie wet is nuwer as die Nasionale Padverkeerswet en word tans op ‘n toetsfase in Johannesburg en Pretoria toegepas. Uiteindelik moet die wet landwyd toegepas word en sal vele van die Nasionale Padverkeerswet se strafprosedures vervang.

Die wet beoog om padverkeersoortredings te dekriminaliseer en dit op ‘n administratiewe grondslag te bereg. Dit beteken dat die afdwing van die wet nie sal geskied deur oortredings te ag as kriminele oortredings nie, maar as administratiewe oortredings ingevolge waarvan ‘n oortreder ‘n boete opgelê kan word en ook op die volgende wyses gestraf kan word:

Vir elke oortreding word punte afgetrek en na ‘n sekere limiet bereik is, kan ‘n persoon sy bestuurslisensie verloor.

Voertuiglisensies kan teruggehou word totdat alle boetes betaal is, maar slegs na ‘n regsproses wat tans nie behoorlik toegepas word nie.

Die owerheid sal beslag kan lê op ‘n oortreder se bates, soos ‘n huis of voertuig, wat in eksekusie verkoop kan word om boetes te delg.

Dit is belangrik om die volgende reëls wat jou beskerm oor Aarto in gedagte te hou:

Niemand mag gearresteer word oor uitstaande Aarto-boetes nie.

Niemand mag by ‘n padblokkade gestop word oor uitstaande Aarto-boetes nie en mag nog minder gedwing word om dit daar te betaal.

Aarto-boetes moet persoonlik aan die oortreder oorhandig word of per geregistreerde pos gestuur word anders het dit geen regskrag nie.

‘n Oortreder het die reg om ‘n Aarto-boete te betwis by die padverkeersoortredings-owerheid (RTIA) en ook in ‘n AARTO-hof daarna. Tans bestaan daar geen Aarto-howe nie en kan die proses dus nie voltooi word nie. Dit beteken as mens jou Aarto-boete na ‘n hof verwys, die boete uiteindelik nie bereg gaan word nie en ongeldig sal word aangesien mens die reg het om spoedig in die hof te verskyn. Weens die gebrek aan behoorlike prosesse, is meeste Aarto-boetes dus onwettig.

Wat die SANRAL-wet (vir die e-tolstelsel) aanbetref, is dit belangrik om die volgende in in gedagte te hou:

Geen voertuiglisensie of enige ander lisensie mag teruggehou word vir uitstaande e-tol rekeninge nie. Die wet laat dit nie toe nie.

Niemand mag by ‘n padblokkade gestop word oor uitstaande e-tolrekeninge nie en nog minder om te verneem of die motoris ‘n e-skyfie het.

Niemand mag gedwing word om ‘n e-skyfie aan te skaf nie.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403