VF Plus na Openbare Beskermer (OB) oor Jackie Selebi se regskoste

2014-07-21
Dr Pieter Groenewald

Die VF Plus gaan vandag ‘n klag indien by die Openbare Beskermer (OB) oor die regskoste van voormalige polisiekommissaris Jackie Selebi.

Dr. Groenewald het gesê die kwessie sloer al jare en dat hy verskeie kere gevra het wanneer Selebi die geld gaan begin terug betaal.

“R17,5 miljoen plus rente moet terugbetaal word. Dis langer as vyf jaar sedert die voormalige polisiehoof skuldig bevind is aan omkopery en korrupsie, en steeds is daar geen uitsluitsel oor wanneer hy sy regskostes gaan betaal nie.

“Dis tyd dat Selebi begin betaal vir sy misdade. ‘n Jaar gelede het die regering al onderneem om ‘binnekort’ ‘n besluit daaroor te neem en met antwoorde te kom.

“Hierdie situasie is onaanvaarbaar. Dis nie net die polisie wat hieraan werk nie. Daar is talle regsmense en die nasionale tesourie. Die VF Plus sal nie toelaat dat hierdie aangeleentheid net begrawe word nie.

“Benewens die feit dat Selebi steeds oënskynlik gesond en ‘n vry man is nadat hy op mediese parool vrygelaat is, skuld hy steeds meer as R17,5 miljoen. Ons wil nou antwoorde hê,” het dr. Groenewald gesê.

Selebi is in 2010 vir 15 tronk toe gestuur omdat hy omkoopgeld van die dwelmbaas Glen Agliotti ontvang het. Hy is in 2012 op mediese parool vrygelaat.

 

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403