VF Plus kuier in Coronationville

2015-08-26
Die Redaksie

Die VF Plus het vandeesweek by bejaardes in die Frederic Tehuis vir Bejaardes in Coronationville gaan kuier.

“Die Tehuis met sy 85 inwoners het bepaalde uitdagings om in geheel suksesvol te funksioneer. Die bestuur en personeel van die Frederic Tehuis moet gekomplimenteer word vir die wyse waarop hulle bejaardes daagliks versorg en hanteer,” sê Marga Kruger-Alberts, skakelbeampte van dr. Pieter Mulder, VF Plus leier.

Sy is vergesel deur Carmen Margro, gemeenskapsleier en motiveringspreker in die gebied.

“Behalwe vir twee inwoners, word bejaardes hoofsaaklik deur die staat en borge gesubsidieer. Die Tehuis het drie jaar gelede erge finansiële probleme ondervind en was amper gedwing om hul deure te sluit. Hulle het egter besluit om ‘n omkeerplan in werking te stel en moes van hul personeelkorps sny.

“Dié reëling plaas druk op huidige personeel en selfs die fisioterapeut is ‘n vrywillige werker. Die ideaal is dat meer personeel of vrywillige werkers aangestel word,” sê Kruger-Alberts.

Ondanks finansiële druk, plaas dit nie ‘n demper op die werksaamhede van die Tehuis nie. Hulle word gereeld deur individue, maatskappye en groepe besoek wat hulle bederf en op uitstappies neem.

Die VF Plus het aangebied om die Frederic Tehuis by te staan met probleme wat tans ondervind word.

Hulle het ook die gemeenskap uitgenooi om bejaardes by te staan, veral met die oog op ouma- en oupadag op 13 September en bejaardedag op 1 Oktober vanjaar.

“Elke inwoner van Frederic Tehuis is iemand se ma, pa, ouma of oupa en hulle kan nie in ‘n kas toegesluit word nie. Hul versorging is nie alleen die staat se verantwoordelikheid nie. Ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor die swakkes en siekes. Gaan kuier vir iemand in ‘n tehuis en maak so ‘n verskil.

“Hulle het altyd kos, doeke, snoepery, toiletware en baie liefde nodig”.

Mense wat ‘n verskil wil maak in ‘n bejaarde se lewe kan gerus vir Marga Kruger-Alberts skakel by 076 520 3033.