VF Plus kap ANC omdat hul die beveiliging van woonbuurtes verhinder

2014-02-27
Die Redaksie

Die VF Plus het vandag tydens die raadsvergadering van die Tshwane Metro die ANC, die regering en die stad daarvan beskuldig dat hulle nie omgee oor die veiligheid van die land of stad se burgers nie.

Dit volg nadat ‘n item op die tafel gedien het waarin die breë gemeenskap van Constantiapark, Erasmuskloof en Waterkloof Glen ‘n aansoek by die raad ingedien het om die gemeenskap te beskerm deur sekuriteitsmaatreëls by tien straatingange deur middel van toegangsbeheer toe te pas.

Die departement van Stadsbeplanning het aanbeveel dat die aansoek geweier word ten spyte van aanbevelings van die plaaslike kerk, SAPD Brooklyn en die plaaslike GPF dat die gemeenskap beveilig moet word en dat hierdie maatreëls toegepas moet word.

Die leier van die VF Plus in Pretoria en leier in die raad, Rdl. Philip Van Staden, het in ‘n sterk bewoorde toespraak gesê dat die regering nie daarin kon slaag om die land en stad se burgers die afgelope twintig jaar te kon beskerm nie.  Hy het gesê dat die VF Plus altyd ‘n gemeeskap sal ondersteun wat drastiese stappe moet neem om hulle eie veiligheid te verseker. Van Staden het die raad daarop gewys dat die gemeenskap in vrees leef in afwagting om die volgende moordslagoffers te word.  “Speaker, sedert April 2003 tot Maart 2009 is 59 mense reeds in hierdie area vermoor.  Oor dieselfde tydperk was daar nie minder nie as 225 gevalle van poging tot moord gewees.  Dit is totaal en al onaanvaarbaar!”

Van Staden het voortgegaan deur te sê dat indien die stad en die regering nie sy burgers kan beskerm nie, dit tyd geword het om van hulle ontslae te raak tydens die komende verkiesing. Hy het gesê dat verandering sal kom en dat inwoners saam sterker is.

Die VF Plus het dit laat notuleer dat hulle teen die besluit van die raad is om nie die betrokke woonbuurtes te beveilig nie.

 

Raadslid Philip van Staden, Tshwane Metro

VF Plus Pretoria Streekleier

Tel: 084 015 4722

Philip@vf.co.za / philipvastaden@yahoo.co.uk