VF Plus-jeug vergader met Bapela oor NYDA

2014-02-11
Wouter Wessels

Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) was die afgelope paar jaar in verskeie omstrede voorvalle betrokke. Dit sluit in die R100 miljoen vir die Wêreld-jeugfees, R62 miljoen se onregmatige uitgawes en die hoof uitvoerende beampte se salaris van R2,43 miljoen per jaar.

Die VF Plus-jeug het vandag met die adjunkminister in die Presidensie, mnr. Obed Bapela vergader. Die doel van die vergadering was om die talle ongerymdhede en oneffektiwiteit van die NYDA te bespreek.

Volgens Wouter Wessels, nasionale jeugleier van die VF Plus, was die vergadering grootliks konstruktief, veral omdat die adjunkminister ingestem het en sy onderneming gegee het om die buitensporige hoë salaris van die hoof uitvoerende beampte van die NYDA te verminder voordat die pos eersdaags geadverteer gaan word.

Die adjunkminister het aangedui dat die Wet op die NYDA hersien moet word en dat baie van die huidige leemtes hierdeur reggestel kan word. Die adjunkminister het ook onderneem om ‘n spesiale byeenkoms vir jeugorganisasies te reël om die NYDA se werking te evalueer en te bespreek.

Die VF Plus-jeug sal voortgaan om druk op die regering toe te pas om ‘n funksionerende jeug-ontwikkelingsliggaam daar te stel. Jeugwerkloosheid is ‘n geweldige probleem en daarom is dit onaanvaarbaar dat die NYDA nie funksioneer nie en terselfdertyd buitensporige salarisse aan hul amptenare betaal.

Die VF Plus-jeug volg ook gereeld op met die kantoor van die Openbare Beskermer met betrekking tot die VF Plus se klagtes rakende die NYDA en hul ongemagtigde en onregmatige uitgawes.

 

Wouter Wessels LPW

Kontaknommer: 082 674 6670