VF Plus-jeug dring aan op die afskaffing van die Nasionale Jeug Ontwikkelingsagentskap (NYDA)

2013-09-27
Wouter Wessels

Die jaarverslag van die NYDA wat gister in die parlement ter tafel gelê is, het getoon dat R62 miljoen se ongemagtigde uitgawes tydens die 2012/13 finansiële jaar aangegaan is.  Die Ouditeur-Generaal (OG) se verslag toon dat die totaal van ongemagtigde uitgawes oor die afgelope twee jaar R195 miljoen beloop het.

 

“Dit is onaanvaarbaar dat hierdie staatsinstelling soveel ongemagtigde uitgawes aangaan sonder dat enige persone aanspreeklik gehou word. Volgens die jaarverslag het die geskorste Hoof Uitvoerende Beampte, Steven Ngubeni, se salaris met 20% van R2.032 miljoen tot R 2.435 miljoen verhoog.  Hierdie salaris is buitensporig vir ’n Hoof Uitvoerende Beampte van ’n instelling wat totaal oneffektief en disfunksioneel is,” het Wouter Wessels, die Vryheidsfront Plus se nasionale jeugleier vandag gesê.

 

Die VF Plus-jeug gaan ’n ernstige skrywe aan die Openbare Beskermer (OB) en die Presidensie rig vir ’n dringende ondersoek ten opsigte van al die onreëlmatighede waar die NYDA betrokke was oor die afgelope drie jaar. Die VF Plus-jeug dring ook daarop aan dat hierdie instelling totaal afgeskaf moet word aangesien dit slegs ’n mors van belastingbetalers se geld is en die NYDA sedert hul stigting nie aan hul grondwetlike mandaat voldoen nie.

 

Wouter Wessels, LPW

082 674 6670