VF Plus help Valke met ondersoek na beskadiging van Paul Kruger-standbeeld in Pretoria

2015-05-11
Adv Anton Alberts

Die VF Plus het vanoggend verdere inligting aan die Valke oorgedra wat kan help in die ondersoek na die beskadiging van die Paul Kruger-standbeeld in Pretoria waarvoor die EFF verantwoordelikheid aanvaar het, sê adv. Anton Alberts, VF Plus-LP en provinsiale leier in Gauteng.

Volgens adv. Alberts was hyself, en mnr. Jean Kriek, die VF Plus se jeugleier in Gauteng, deur die ondersoekbeampte gevra om voorleggings oor getuienis te maak. Intussen is hy tevrede met vordering wat reeds gemaak is, asook met die erns waarmee die betrokke offisier die ondersoek aanpak, sê adv. Alberts.

Die VF Plus het vroeg verlede maand ʼn klag ingedien teen die EFF se leier Julius Malema, die EFF se woordvoerder Mbuyiseni Ndlozi en sy ondervoorsitter in Tshwane, Moafrika Mabongwana, nadat die Kruger-standbeeld op Kerkplein in Pretoria, met verf bemors is.

ʼn Bykomende klag is ingedien teen mnr. Floyd Shivambo, EFF-LP, omdat hy EFF-lede op twitter geadviseer het dat dit nie nodig is om deur ʼn regsproses te gaan om beelde te verwyder nie.

Adv. Alberts sê die betrokke EFF-lede het mense opgesweep om "koloniale standbeelde wat aan apartheid herinner" te verniel of af te breek, en dit het direk gelei tot die opsetlike beskadiging van Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein. Die EFF het later in die openbaar verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar.

Hy sê die klagte wat ingedien is, is gegrond op die verbreking van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne.

“Die ondersoekbeampte is hoopvol dat die ondersoek binnekort voltooi sal wees en dat dit reeds binne die volgende maand voor ʼn hof kan dien. Die VF Plus sal deurlopend sy volle steun aan die ondersoek gee, en wil die polisie prys vir die goeie werk wat reeds gedoen is.

“Die boodskap moet hiermee hard en duidelik uitgestuur word dat Suid-Afrika steeds ʼn regstaat is waarin boewery soos die EFF uitgestal het, nie geduld sal word nie, en dat niemand in ʼn grondwetlike demokrasie bo die wet verhewe is nie,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

Jean Kriek

076 015 2218