VF Plus gaan Zuma aankla vir haatspraak oor “Van Riebeeck”-uitlatings

2015-01-12
Adv Anton Alberts

Die VF Plus gaan pres. Jacob Zuma en die ANC by die Menseregtekommissie (MRK) van haatspraak verkla na Zuma se uitlatings dat die land se probleme begin het met die aankoms van Jan van Riebeeck in Suid-Afrika, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.

Luidens berigte in onder meer Netwerk24 het Zuma gesê wat op Van Riebeeck se aankoms gevolg het, was “talle stryde en oorloë en sterftes en die gryp van grond en die ontneming van die inheemse mense se politieke en ekonomiese mag”.

Adv. Alberts sê die VF Plus is van mening dat die uitsprake op rassebasis polariserend is en grof beledigend teenoor alle wit mense in die land is.

“Dit is onpresidensieel om sulke uitlatings te maak in ʼn land wat divers is en waar die staatshoof oor almal regeer. Dit is daarom die VF Plus se mening dat dit haatspraak is omdat wit mense die sondebokke gemaak word vir alles wat verkeerd geloop het sedert 1652.

“Die uitlatings kan boonop geskiedkundig betwis word en dit sou veral onrusbarend wees as dit sou blyk dat dit die amptelike siening van die ANC is. Die Menseregtekommissie moet die ANC hieroor konfronteer ten einde vas te stel of die regering vyandskap verklaar het teenoor alle witmense,” sê adv. Alberts.

Hy sê die VF Plus gaan die klag nie net namens wit mense indien nie, maar namens alle gemeenskappe in Suid-Afrika wat graag in vrede wil saamleef en saam vooruitgaan.

“Sulke uitsprake is hoogs verdelend en kan veroorsaak dat nie net wit mense in die toekoms geteiken word nie, maar alle minderhede.

“Indien die ANC sou voortgaan op hierdie pad, kan ons begroot vir konflik in die toekoms en sal verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika uiteindelik geen keuse hê as om hulself te verdedig deur verskeie vorms van remediërende selfbeskikking op te eis nie.

“Dit sal hoogs ironies wees as die ANC self eindelik die oorsaak word van ʼn hoogs verdeelde Suid-Afrika. Hierdie klag is juis daarop gerig om die ANC hieroor te konfronteer,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403