VF Plus gaan voort met klag teen Sanral oor ongesertifiseerde meetinstrumente

2016-03-04
Adv Anton Alberts

Dit blyk dat Sanral hom nie steur aan die vereistes van die Wetlike Metrologiewet (Wet 9 van 2014) oor die sertifisering van meetinstrumente nie, en die VF Plus gaan daarom voort met sy klag in dié verband by die Verbruikerskommissie, sê adv. Anton Alberts, parlementêre woordvoerder van die VF Plus oor Vervoer.

Volgens adv. Alberts het hy en ʼn regspan van die VF Plus gister op aanbeveling van die Verbruikerskommissie gesprek gevoer met Sanral in ʼn poging om die saak op vriendskaplike wyse te probeer oplos.

“Daar is ongelukkig geen vordering gemaak nie, en die gesprek het op ʼn dooie punt uitgeloop. Albei partye hou by hul standpunte. Die VF Plus is nogtans tevrede dat hy aan die Verbruikerskommissie se versoek voldoen het deur oplossings in mediasie te vind.

“Ons vra nou die NVK om voort te gaan met hulle ondersoek en ʼn bevinding te maak,” sê adv. Alberts. (Die VF Plus se brief met die versoek aan die Verbruikerskommissie word hierby aangeheg).

Volgens adv. Alberts het die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) aan die VF Plus bevestig dat die e-tol-toerusting nooit gesertifiseer is soos die wet vereis nie. Die NRVS het ook bevestig dat daar nooit aansoek gedoen is om sertifisering nie.

Dit beteken dat enige poging van Sanral om geld in te vorder, op grond hiervan onwettig sal wees. Dit is benewens die feit dat die totale stelsel volgens die VF Plus ongrondwetlik is, aldus adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403