VF Plus gaan polisie vra om Suid-Afrika se betrokkenheid in sokkerbedrog te ondersoek

2015-05-28
Adv Anton Alberts

​Die VF Plus gaan ʼn klag by die polisie indien oor die moontlike betrokkenheid van persone in die Suid-Afrikaanse regering en die land se vorige bodkomitees vir die sokker-wêreldbeker, oor bewerings van internasionale sokkerbedrog, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport.

Adv. Alberts sê die klagte sal vandag geformuleer word waarna dit more by ʼn polisiekantoor in Pretoria ingedien sal word. Besonderhede oor wanneer en by watter polisiekantoor, sal later bekend gemaak word.

Volgens adv. Alberts is dit wel so dat ʼn oudit van Suid-Afrika se geldsake met betrekking tot die wêreldbeker gedoen is.

“Dit was egter nie ʼn forensiese oudit nie, en uit inligting in die Amerikaanse klagstaat blyk dit dat die geld op so ʼn wyse vanaf Fifa self na die betrokkenes gekanaliseer is, dat dit net deur ʼn deeglike forensiese oudit ontbloot sou kon word.

“Die VF Plus sal versoek dat die rol van die betrokke sportministers tot en met 2010, asook Danny Jordaan, wat aan hoof van die bodspan gestaan het, in besonder ondersoek moet word.

“Ons sal ook versoek dat die Valke die ondersoek sal waarneem aangesien dit in hierdie stadium blyk of hoë profiel-amptenare betrokke is.

“Die VF Plus sal ook in die parlement vrae oor die aangeleentheid stel aangesien dit in die belang van die land en al sy inwoners is dat hierdie saak tot op die been oopgevlek word.

“Wat positief is, is dat die saak en die ondersoek wyer as Suid-Afrika strek en dat dit daarom nie soos met die wapenskandaal bloot deur die ANC-regering onder die mat ingevee kan word nie.

“Die bewerings doen nou ook afbreek aan die reputasie van die ontslape president Nelson Mandela aangesien dit aan sy sogenaamde ‘magic’ toegeskryf is dat Suid-Afrika die bod gewen het om die 2010-toernooi aan te bied.

“Nou wil dit voorkom asof dit moontlik te danke was aan die belastinggeld van gewone Suid-Afrikaners. Luidens die klagstaat het Suid-Afrika die bod gewen met net soveel stemme as wat na bewering omgekoop is,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403