VF Plus en Warlocks-motorfietsklub deel kospakkies uit aan slagoffers van platinumstaking in Mooinooi

2014-06-11
Dr Pieter Groenewald

Die Vryheidsfront Plus in Noordwes en die Warlocks-motorfietsklub het Dinsdag (10/06/14) aan meer as 250 gesinne kospakkies uitgedeel in Mooinooi. Die gesinne is slagoffers van die platinumstakings in die Rustenburg-omgewing. Volgens die president van die Warlocks, mnr. Andy Meintjes, het meer as veertig verskillende motorfietsklubs bygedra om soveel kospakkies te kon opmaak. Die VF Plus se raadslid in Brits (Madibeng), rdl. Elsa Lourens, en takvoorsitter van die VF Plus op Mooinooi, me. Hannetjie Grobbelaar, het die plaaslike reëlings getref om toe te sien dat werklike slagoffers gehelp word en die proses het baie ordelik verloop.

“Die besef van die regering dat drastiese veranderinge aan arbeidswette nodig is, word deur die Vryheidsfront Plus verwelkom. Die VF Plus waarsku lankal reeds dat te veel mag aan vakbonde die ekonomie kan lamlê en nie werklik die werkers beskerm nie. Dit is onaanvaarbaar dat werkers wat wel wil werk, verhoed word om te werk en gevolglik nie betaling ontvang nie. Optrede soos die van Magaret Thatcher in Brittanje in die tagtigerjare, toe sy vakbonde vasgevat het, is nou nodig in Suid-Afrika. Dit is jammer dat die regering eers ‘n ramp moet ervaar voordat hulle stappe neem om dit reg te stel,” sê dr Pieter Groenewald, provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus in Noordwes.

“Dit is nog altyd die standpunt van die Vryheidsfront Plus dat daar ‘n balans moet wees tussen die belange van werknemers en werkgewers in terme van arbeidswetgewing. Om die rede word die hofaansoek van Solidariteit by die konstitusionelehof ook verwelkom om die belange van hulle lede te beskerm. In die parlement sal die VF Plus aktief bydra om arbeidswetgewing te wysig om die balans te herstel, en werkers wat wil werk te beskerm,” het Groenewald gesê.

 

Kontaknommer: 083 627 4397