VF Plus eis referendum oor Afrikaans by Tuks

2015-11-03
Die Redaksie

Die Vryheidsfront Plus-jeug in Gauteng is teleurgesteld in prof. Cheryl de la Rey, rektor van die Universiteit van Pretoria (UP), wat ingestem het om die universiteit se taalbeleid te hersien.

“Dit is jammer dat Afrikaans weer aangeval word. Die party moet gereeld Afrikaans verdedig, binne en buite howe. Die tyd het aangebreek dat Tuks-studente aan ʼn referendum deelneem om so hul stem oor Afrikaans te laat hoor,” sê Jean Kriek, die VF Plus-jeugleier in Gauteng.

Die hersiening van die taalbeleid volg na die onlangse “Klasgeld-moet-val” demonstrasies.

“Die klasgeldbeleid hou geen verband met die universiteit se taalbeleid nie. Prof. de la Rey moet haar eerder besig hou met meer ernstige sake as om na radikale politieke partye soos die PAC, ANC en EFF te luister. Die VF Plus-jeug kry die indruk dat prof. de la Rey miskien hiermee saamstem.

Die VF Plus-jeug sal nooit ophou om vir die behoud van Afrikaans te veg nie. Dit is belangrik dat leerders en studente in hul moedertaal onderrig word.

“'n Klein radikale groepie, waarvan die meerderheid nie eers Tuks-studente is nie, kan nie duisende studente voorsê nie. Die meerderheid Afrikaanssprekende studente is getrou in hul studies en betaal studiegeld. Die tyd het aangebreek dat ingeskrewe Tuks-studente hul mening lug. Intussen sal ons die situasie noukeurig dop hou,” het hy gesê.

Hy meen dat die VF Plus nie sal huiwer om verdere stappe te neem indien Afrikaanssprekende studente se grondwetlike reg om in hul moedertaal onderrig te word, van hulle weggeneem word nie.

 

Jean Kriek

076 015 2218