VF Plus dwing publieke deelname op Tshwane-metro af

2016-03-24
Philip van Staden

Die VF Plus het die Tshwane-metroraad gedwing om ‘n publieke deelname-proses te volg wat verband hou met die uitbreiding van die BRT-buslane in Lynnwoodweg, Pretoria.

Dit volg nadat die VF Plus reeds in 2012 inwoners en sakemanne van die betrokke straat bygestaan het, nadat hulle ‘n petisie aan die Tshwane-metro gerig het teen die projek. Die VF Plus het toe reeds in 2012 die Tshwane-metro gewaarsku dat hulle hulself in ‘n taai hofstryd kan bevind indien die uitbreiding van die buslane sou voortgaan en dat ondeurdagte projekte wat nie behoorlik nagevors word nie, nie op belastingbetalers afgedwing kan word nie.

Die Tshwane-metro het nogtans voortgegaan met die beoogde projek. Alhoewel ‘n uiters wankelrige proses gevolg is, was die Tshwane-metro genoodsaak om op 28 Mei 2015 ‘n nuwe besluit in die raad te neem dat die publieke deelname-proses meer intensief uitgebrei en gehou moet word. Dit het egter ook nie plaasgevind nie en hernude besware teen die projek is weer aangeteken in die vorm van ‘n petisie wat voor die Gautengse Wetgewer se Petisiekomitee die afgelope week gedien het.

Die VF Plus se LPW in Gauteng en lid van die petisiekomitee, mnr Philip van Staden, het kaalvuis onder verteenwoordigers van die Tshwane-metro ingeklim en na ‘n drie-uur lange vergadering is daar deur die Gauteng Petisiekomitee beslis dat die besluit wat reeds op 28 Mei 2015 deur die Tshwane-metroraad geneem, binne ‘n periode van sewe dae afgedwing moet word. Die Tshwane-metro het hieraan gehoor gegee en die deelname-proses het reeds in Mamelodi afgeskop.

Awie Erasmus, VF Plus-raadslid in die Tshwane-metro, het ook die vergadering bygewoon en was voorbereid om getuienis te lewer indien die komitee dit so sou versoek.

“Hierdie beslissing van die Gauteng provinsiale Petisiekomitee is weereens ‘n bewys dat daar wel hoop is daarbuite vir vuisvose inwoners wie se besware geïgnoreer word. Hierdie saak kom sedert 2012 toe ek as raadslid in die Tshwane-metro reeds hierteen beswaar gemaak het. Nadat ek ingesweer is as lid van die Gauteng Wetgewer in 2014 het ek aangehou met die saak. Uiteindelik is daar beslis in die guns van die beswaardes en het die VF Plus daarin geslaag om die Tshwane-metro te dwing om voldoende uitgebreide publieke deelname prosesse te volg en nie sommer net projekte deur te stoomroller nie” sê Van Staden.

“Ek kan bevestig dat die nuwe proses, soos afgedwing deur die provinsie, wel hierdie week begin het in Mamelodi nadat ekself die proses gaan bywoon het. Die VF Plus is nie teen openbare vervoer nie, maar die implementering van groot projekte soos hierdie moet volhoubaar en tot voordeel van almal in die gemeenskap wees” sê rdl Awie Erasmus.

Die VF Plus op munisipale- en provinsiale vlak hou die situasie fyn dop.

 

Tel: 084 015 4722

Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za

 

Awie Erasmus Raadslid Tshwane Metro

Tel: 072 815 4053

awieerasmus@gmail.com