VF Plus dring by minister van arbeid daarop aan dat konsepregulasies oor gelyke indiensneming teruggetrek word

2014-03-28
Dr Pieter Mulder

Die VF Plus het gister formeel beswaar aangeteken teen die konsepregulasies oor gelyke indiensneming, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Volgens dr. Mulder was gister (27 Maart) die sperdatum om beswaar aan te teken teen die konsepregulasies op die Gewysigde Wetsontwerp op Gelyke Indiensneming wat einde verlede maand bekend gemaak is.

Hy het daarom ‘n brief met ‘n dringende versoek gerig aan die minister van arbeid, Mildred Oliphant, om die konsepregulasies as ‘n saak van ‘die uiterste belang’ terug te trek. Die brief lui onder meer:

“Die VF Plus wil dit duidelik stel dat ons ten sterkste beswaar aanteken teen die onlangs gepubliseerde regulasies op die Gewysigde Wet op Gelyke Indiensneming. Die Grondwet van Suid-Afrika, en in besonder artikel 9 van die Gelykheidsklousule, bevestig almal in Suid-Afrika se gelykheid.

“Die voorgestelde konsepregulasies op Gelyke Indiensneming maak ‘n bespotting van hierdie waarborg in die Grondwet. Dit is ook in direkte teenstelling met die totale idee van nie-rassigheid wat een van die grondbeginsels van ons Grondwet en in besonder artikel 1(d) is.”

Volgens dr. Mulder behels die regulasies in ‘n neutedop dat ’n werkgewer met meer as 150 werknemers die ‘nasionale ekonomies aktiewe’ bevolkingsyfer of demografie moet gebruik met aanstellings in so ‘n maatskappy se top- en senior-bestuurvlakke.

“Dit sal mense van verskillende rasse ontneem van ‘n gelyke kans om werk te kry, en veral in die Wes-Kaap sal wit, maar veral bruines die swaarste getref word.

“Landwyd is bruin mense 9% van die totale bevolking en in die Wes-Kaap bykans 50%. Dit sal dus beteken dat sowat 40% van bruin mense in die Kaap ‘n werk ontsê word, sê dr. Mulder.

 

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403