VF Plus doen beroep op kiesers van Gauteng om seker te maak ANC word geklop op stemdag

2014-05-05
Adv Anton Alberts

Die VF Plus se premierskandidaat vir Gauteng, adv. Anton Alberts, het vandag ‘n hernieude oproep op die kiesers van dié provinsie gedoen om in hul eie belang seker te maak die ANC word op Woensdag 7 Mei by die stembus geklop.

Adv. Alberts sê die ANC het Suid-Afrika en Gauteng na 20 jaar van regering gefaal en dat dit goed gesien kan word in die onveilige en haglike omstandighede waarin mense in die provinsie en elders in die land leef.

“Daar is veral groot druk op die armes en middelklas weens ‘n gebrek aan volhoubare en genoegsame ekonomiese groei. Daarbenewens was e-tol die laaste strooi vir die reeds swaar belaste inwoners van Gauteng.

“Indien kiesers die ANC genoegsaam straf, kan ‘n koalisie van opposisieparty in Gauteng regeer en sal die VF Plus die portefeuljes van ekonomiese ontwikkeling en veiligheid vra om seker te maak dat ekonomiese groei in die provinsie plaasvind en dat mense sodoende veilig kan woon sonder vrees vir hul lewe of besittings.

“Deur die vermorsing van staatsgeld stop te sit, kan weggedoen word met e-tol en belastings kan verlaag word om aan almal in die provinsie ‘n beter lewe te gee,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403