VF Plus dien klag by Staatsdienskommissie in teen Prasa se hoofingenieur, dr. Daniel Mtimkulu

2015-07-10
Adv Anton Alberts

Die VF Plus het die Staatsdienskommissie (SDK) versoek om ondersoek in te stel na die kwalifikasies van Prasa se hoofingenieur, dr. Daniel Mtimkulu, asook na die toepaslikheid van sy kwalifikasies vir sy huidige pos, sê adv. Anton Alberts, die VF plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

ʼn Voorlopige ondersoek van die VF Plus het gister gevind dat Mtimkulu, wel by die Ingenieursraad van Suid-Afrika (Ecsa) geregistreer is, maar slegs as ingenieurstegnoloog.

Om as tegnoloog te registreer, vereis ʼn diploma en ʼn B-Tech-kwalifikasie. Om as ingenieur te registreer, is ʼn toepaslike universiteits-B-graad in ingenieurswese die minimum vereiste.

Daar bestaan dienooreenkomstig ook onsekerheid oor sy doktorale studies by ʼn onbekende Duitse universiteit, en ook dit moet ondersoek word, sê adv. Alberts.

Luidens mediaberigte het die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) geen rekord oor Mtimkulu nie. Hy het glo sy graad aan dié universiteit behaal. Hy weier tot dusver ook om nader besonderhede oor sy doktorale studies aan die media te gee.

Op Ecsa se webwerf (www.ecsa.co.za) is wel bevestiging dat ʼn Daniel Qhubekani Mtimkulu, met registrasienommer 200970014, sedert 22 Januarie 2009 geregistreer is as siviele professionele ingenieurstegnoloog.

Volgens adv. Alberts versoek die VF Plus die SDK om die ondersoek te begin by die bewering dat Ecsa reeds in 2006 Mtimkulu se aansoek om te registreer verwerp het omdat hy nie opleidings- en projekverslae ingedien het nie.

“Die VF Plus versoek die SDK om klagte van wanadministrasie, bedrog, onbehoorlike gedrag rakende openbare fondse en onbevoegdheid in sy hoedanigheid as hoofingenieur by Prasa teen dr. Mtimkulu te ondersoek.

“Indien gevind word dat enige oortreding gepleeg is, moet die nodige stappe teen dr. Mtimkulu en Prasa geneem word,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403