VF Plus bied internasionale konferensie oor minderheidsregte aan

2013-11-18
Wouter Wessels

‘n Paneel van internasionale kundiges en vooraanstaande Suid-Afrikaanse akademici gaan deelneem aan ‘n konferensie oor minderheidsregte wat die Vryheidsfront Plus eerskomende Donderdag in samewerking met die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO) by die Parlement in Kaapstad aanbied.

Volgens mnr. Wessels beplan die VF Plus met die konferensie om die regte van minderhede vanuit ‘n Suid-Afrikaanse perspektief opnuut onder die aandag van die internasionale gemeenskap te bring.

Hy sê internasionaal erkende begrippe soos groeps-, gemeenskaps en –minderheidsregte asook selfbeskikking is moderne politieke begrippe waaroor veral Europa en in die Verenigde Nasie (VN) gereeld debat gevoer word.

Sprekers van die Khoisan en Bruingemeenskappe gaan ook aan die konferensie deelneem.

Die VF Plus is reeds etlike jare betrokke by die internasionaal erkende strewe na die regte van minderhede en het verskeie suksesvolle gesprekke en samesprekings gevoer in die Europese Unie-Parlement in Strasbourg.

Ten tyde van hierdie gesprekke het dr. Mulder kwessies soos taal en kultuur asook regstellende aksie en plaasmoorde in Suid-Afrika onder die internasionale kollig geplaas.

Vandeesweek se konferensie is op Donderdag 21 November om 10:00 in die Ou Raadsaal van die Parlement in Kaapstad.

Belangstellendes word genooi om teen Dinsdag 19 November 2013 teen die laatste 15:00 hul naam, kontakbesonderhede en ID-nommer deur te gee aan Daleen Steyn by daleens@fsl.gov.za sodat bywoning gereël kan word. Sy kan geskakel word by 051-407-1104.

 

Wouter Wessels, LPW

082 674 6670