VF Plus bespreek Afrikanersake soos die onderdrukking van Afrikaans en plaasmoorde voor die internasionale gemeenskap

2014-11-29
Dr Pieter Mulder

Die VF Plus het gister die verhoog gedeel met ander minderhede soos die Koerde van Iran om die Unrepresented Nations and Peoples Organization (UNPO) in te lig oor die verdrukking wat hulle as minderheidsgroepe in hul onderskeie lande ervaar, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Volgens dr. Mulder ervaar die Koerde erge verdrukking en daar is tans 25 lede van dié groep in aanhouding wat weens politieke redes die
doodsvonnis opgelê is in Iran.

“Soos met Afrikaans, word die Koerde se moedertaal ook onderdruk en hul voorlegging het ‘n goeie platform geskep vir die VF Plus om UNPO volledig in te lig oor onder meer Afrikaans en plaasaanvalle in Suid-Afrika.

“Wat universiteite aanbetref, is Afrikaans by van die 38 kampusse in Suid-Afrika, nog net by een die verstektaal,” sê dr. Mulder.

Volgens dr. Mulder het nuwe lede soos die Berbers van Algerië, inwoners van Trieste, ‘n gebied tussen Italië en Slowakye en die mense van die gebied Sind in Pakistan by UNPO aangesluit wat dui op die groeiende internasionale invloed van die organisasie.

Wat die Berbers aanbetref, het die Algerynse parlement sy grondwet 12 jaar gelede gewysig om amptelike status aan die Berber-taal Tamazight te gee wat dit op gelyke voet met die land se amptelike taal Arabies sou plaas.

In die praktyk het dit nie gebeur nie, waarskynlik hoofsaaklik weens demografiese redes waar die minderheidstaal altyd sal kwyn voor die van die meerderheid.

Volgens dr. Mulder het UNPO se dagbestuur besluit om aanstaande jaar in April of Mei ‘n kongres te hou by die Europese parlement in Brussels waar die VF Plus ook teenwoordig sal wees.

 

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670