VF Plus bekommerd dat onwettige protesoptog more met groot geweld gepaard kan gaan

2013-11-28
Rdl André Fourie

Ernstige oordeelsfoute deur die stad Kaapstad kan veroorsaak dat die onwettige protesoptog more na die stad tot geweld kan lei indien groot getalle mense Kaapstad se strate leierloos binnevaar, sê mnr. André Fourie, VF Plus se raadslid vir die Stad Kaapstad.

Dit volg nadat die stad 'n hofbevel gekry het wat die leiers van die betogers verbied om aan die betoging deel te neem. Die dreigement is dat meer as 50 000 mense na die stad sal opruk.

“In effek beteken dit dat die opgesweepte massa wat nie bewus is van die hofbevel teen hul leiers nie steeds sal voortgaan met die optog, maar dat dit nou leierloos gaan wees. Dit skep enorme potensiaal vir grootskeepse geweld en konflik,” sê mnr. Fourie.

Hy het gewaarsku dat mense wat die middestad more kan vermy dit liefs moet doen.

“Die VF Plus het geen vertroue in die gebeurlikheidsplan van die Stad Kaapstad nie. Die DA beheer in die stad het voorkomende aksieplanne tot te laat gelos. Ons hou die ANC, die DA, die Nasionale, die Provinsiale en Stads-regering verantwoordelik vir enige chaos. Die DA het sy plig versuim in hierdie geval terwyl die moontlikheid van geweld duidelik voorsien kon word. Aan die een kan wil die ANC die Wes-Kaap onregeerbaar maak en aan die ander kant is die DA onbevoeg om hierteen op te tree.”

 

Kontaknommer: 083 419 5403