Verwydering van standbeelde op UV is kortsigtig

2015-10-29
Die Redaksie

Die VF Plus-jeug beskou die eis van sekere studente aan die Universiteit van die Vrystaat dat standbeelde van die kampus verwyder moet word as onaanvaarbaar.

Tammy Wessels, VF Plus-jeugleier in die Vrystaat, meen dat die UV nie uit die niet ontstaan het nie, maar dat die universiteit ʼn ryke geskiedenis het. Die standbeeld van president MT Steyn wat voor die hoofgebou van die UV staan, is deur die studente van die eertydse Grey Universiteitskollege befonds en opgerig, en nie deur die staat of die universiteit nie. Met die inhuldiging van die standbeeld was dit mev. Steyn se wens dat hierdie monument 'n blywende besieling tot onwrikbare toewyding aan die vryheidsgees van Suid-Afrika moet wees. Pres. Steyn het sy lewe gewy aan die stryd teen Britse onderdrukking en imperialisme. Die VF Plus-jeug pleit dat daar nie gepoog moet word om die geskiedenis uit te wis nie, maar eerder by te voeg en sodoende die gesamentlike erfenis van die Vrystaat uit te bou.

Die VF Plus-jeug is onomwonde dat standbeelde behoue moet bly en dat geskiedenis nie eensydig moet wees nie. Standbeelde dien as ʼn herinnering van die verlede, maar ook as ʼn sagte waarskuwing vir die toekoms. Alle aspekte van die geskiedenis en historiese figure bevat goed en sleg. Om slegs te verwyder of te vervang dra nie tot nasiebou en sosiale kohesie by nie.

“Dit is nodig dat ons as jeug, maar ook as die toekomstige leiers van Suid-Afrika, gesprek sal voer oor die belangrikheid van ons geskiedenis – wit, bruin en swart – binne die Suid-Afrikaanse konteks,” het Wessels gesê. Wessels het bygevoeg dat dit egter belangrik is om verantwoordelik op te tree wanneer daar oor hierdie sake gedebatteer word.

Die VF Plus-jeug eis dat alle beelde behou word en dat daar eerder nog verteenwoordigende simbole en figure van die geskiedenis aangebring word.

Die VF Plus-jeug sal verder met die UV-bestuur in gesprek tree om sodanige eise te stel ter behoud van almal se taal, kultuur en herkoms. Laat ons die verlede eer en respekteer en saambou aan 'n beter toekoms vir almal.

 

Tammy Wessels

082 490 6663