Verwydering van Astrid Ludin van (CIPC) is deel van die ANC se suiweringsproses van bekwame amptenare

2015-04-20
Adv Anton Alberts

Die kommissaris van die kommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom (CIPC), me. Astrid Ludin, is die jongste slagoffer in die ANC se proses om staatsinstellings van bekwame en eerlike leiers te suiwer en hulle met ANC-gedienstige kaders te vervang, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir handel en nywerheid.

Me. Ludin, die eerste kommissaris van die CIPC wat in April 2011, presies vier jaar gelede tot stand gekom het, sê in ʼn interne skrywe aan personeel dat onder meer die druk van onwettige industriële aksies ʼn onhoubare klimaat van intimidasie geskep het.

Luidens ʼn berig in vandag se Business Day Live was daar ook deurlopend ongestaafde bewerings van bedrog en korrupsie wat gemik was teen haarself en haar bestuurspan, en sy het in die verband geen beskerming van die minister, dr. Rob Davies, gekry nie.

Die teendeel het gebeur en selfs nadat ʼn forensiese oudit geen bewys van ongerymdhede kon vind nie, het die minister in ʼn skrywe aangedui dat hy haar gaan skors hangende ʼn ondersoek. Volgens Ludin dui dit op ʼn politiek gerigte poging om van haar ontslae te raak, lui die berig.

Adv. Alberts sê Ludin het ʼn reuse taak op haar geneem toe sy vier jaar gelede die pos aanvaar het. Sy het toe reeds gesê dit sou langer as twee jaar duur net om die ‘chaos’ en agterstallige werk by maatskappye en beslote korporasies reg te stel.

Die probleme het ontstaan omdat CIPC se voorganger, Cipro, weens vele probleme soos ʼn verouderde tegnologiestelsel nie die massas aansoeke van tussen 2 500 en 3 000 per dag behoorlik kon prosesseer nie.

Volgens adv. Alberts was probleme rondom die deregistrasie van maatskappye, onder meer weens die nie-indiening van jaarlikse opgawes, ewe groot. In net tien maande voor die totstandkoming van CIPC, is 900 000 maatskappye en beslote korporasies gederegistreer.

“Dit is verstaanbaar dat daar midde-in die chaos groot potensiaal was vir bedrog en korrupsie wat in ʼn geordende proses en administrasie nie so maklik kan plaasvind nie. Ludin het orde gebring aan die deurmekaarspul. Nou moet sy gaan omdat sy haar werk te deeglik gedoen het. Die politieke suiwering van bekwame bestuurspersoneel van staatsliggame is nou aan die orde van die dag.

“Die VF Plus gaan in die parlementêre portefeuljekomitee vir handel en nywerheid vra dat die minister verduidelik en redes gee rondom die aangeleentheid,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403