Verwag ’n suikerlagie om president Zuma se staatsrede

2014-02-11
Dr Pieter Mulder

Daarteenoor sal die president en die ANC waarskynlik ‘n ander beeld voorhou deur die huidige Suid-Afrika met die een van 1994 te vergelyk. Dit sal dan ingeklee word met ‘n lys van sogenaamde ANC-prestasies van die afgelope 20 jaar, hoe goed dit tans gaan en met ‘n oproep om ANC te stem in die komende verkiesing.

“Die kiesers se kritiek is tans dat die president stil is terwyl die land talle ernstige krisisse beleef. Die staatsrede is dus ‘n geleentheid waartydens hy hierop kan reageer. Daarom verwag die VF Plus dat die president die ernstige krisisse in die land sal bespreek en sal aandui hoe hy beplan om daarmee te handel.

“Op hierdie tydstip is daar ses stakings per dag in Gauteng alleen. Waar Gauteng die ekonomiese enjin van Suid-Afrika is, kan dit nie so voortgaan nie. Daar moet weer na die rol van vakbonde en die land se arbeidswetgewing gekyk word as ons die ekonomie wil red, die groeikoers wil verhoog en sodoende meer werksgeleenthede wil skep. Die VF Plus sal graag aankondigings hieroor wil hoor.

“Met die opstande teen dienslewering brand verskeie woongebiede en is daar tot 30 onluste en skarebeheervoorvalle per dag waaraan die polisie moet aandag gee.

“Ons sal graag aankondigings wil hoor van beter polisie-opleiding en planne vir beter dienslewering op plaaslike vlak. Dit moet planne behels oor hoe plaaslike rade se gebrek aan kundigheid verbeter gaan word.

“Die VF Plus stel voor dat regstellende aksie opsy geskuif word sodat die beste moontlike ingenieurs aangestel kan word om te sorg dat riool nie in strate en riviere inloop nie en dat mense water kry.

“Wat korrupsie aanbetref, vra die VF Plus groter openheid en toeganklikheid vir die media en gewone burgers waar dit oor tenders gaan. Aankondigings dat staatsamptenare nie voordeel durf trek uit tenders en soortgelyke projekte nie, is ook nodig,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403