Verval van weermag nie ’n verrassing vir die VF Plus

2014-04-23
Dr Pieter Groenewald

Die uitlating van die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, na die verslag van die oorsigkomitee oor die nasionale weermag dat die weermag ernstige tekortkominge het en nie sy mandaat kan vervul nie, is nie ‘n verrassing vir die VF Plus nie.

“Die VF Plus waarsku al die afgelope tien jaar dat die weermag se begroting onvoldoende is en dat die regering moet besluit of hulle enigsins ‘n weermag wil hê aangesien die gebrek aan fondse veroorsaak het dat ons ‘n flentergat weermag het,” het dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor verdediging, gesê.

“Dis eintlik verstommend dat die regering nou na 10 jaar skielik die belangrikheid van die weermag besef. Hulle het ‘n trotse en professionele weermag geërf in 1994 en weens kaderontplooiing, gebrek aan fondse en die vernietiging van die kommandostelsel het hulle die weermag gereduseer tot ‘n grenswag-eenheid.

“Nou verwag die regering dat die weermag ’n groot streeksrol moet speel in Afrika, maar is nie bereid om die finansies daarvoor te voorsien nie. Indien die regering ernstig is om steeds ‘n effektiewe en professionele nasionale weermag te wil hê, moet hy minstens 2% van die BBP begroot vir die weermag, moet hy met kaderontplooiing en regstellende aksie ophou en verseker dat behoorlike dissipline toegepas word sodat die nasionale weermag sy grondwetlike taak behoorlik kan uitvoer,” het dr. Groenewald gesê.

 

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403