Versoening en die Afrikaner se plek in SA

2013-12-16
Dr Pieter Mulder

Die terugblikke en huldeblyke die afgelope week, na oud-president Mandela se dood, toon aan hoe ver ons veral die afgelope 15 jaar in Suid-Afrika weg beweeg het van ruimte maak vir mekaar en ware versoening. Die feit dat sommige minderhede vervreemd voel, bevestig dit verder.

Meeste mense in Suid-Afrika soek vrede en ’n veilige toekoms vir hulle kinders asook die reg om hulleself te wees in ’n diverse land. Geforseerde nasiebou en assimilasie sal nie werk nie.

Versoening sal outomaties volg wanneer geen groep of individu bedreig, onderdruk of gemarginaliseer in die land voel nie,” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier en adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye in ’n toespraak naby Harrismith gesê.

“Werklike versoening lê daarin om die regte balans tussen dit wat ons as individue in gemeen het, en daar waar ons kultureel van mekaar verskil, te vind. As versoening in Suid-Afrika beteken dat die verskillende volke en kultuurgroepe dit wat hulle eie is, moet vernietig en opoffer, dan is die versoeningsresep verkeerd. Dit is nie werklike versoening nie maar assimilasie en kulturele uitwissing.

“So staan byvoorbeeld versoeningsdag en die jaarlikse herdenking van die 1838 gelofte nie teenoor mekaar nie. Dit is ’n fout om Afrikaners te probeer forseer om tussen die twee te kies -- want albei is moontlik,” het Mulder bygevoeg.

 

Kontaknommers: 082 674 6670; 083 419 5403