Verbruikerskommissie voltooi ondersoek na ongerymdhede by vakansieklubs in Suid-Afrika

2014-05-02
Adv Anton Alberts

Die VF Plus kan vandag die goeie nuus aan lede van vakansieklubs bring dat die Verbruikerskommissie se ondersoek na ongerymdhede in die vakansieklub-industrie pas voltooi is, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Die ondersoek is gedoen op aandrang van die VF Plus en is ‘n tweede oorwinning vir die publiek binne enkele weke nadat die VF Plus ook ‘n geslaag het met ‘n versoek aan die Openbare Beskermer (OB) om ‘n tenderproses vir sakepersele in Pelgrimsrus te laat omkeer.

Volgens adv. Alberts word die ondersoekverslae, wat veral op tyddeel fokus, tans geoudit en die finale verslag behoort binnekort bekend te wees.

Die ondersoek het ‘n lang aanloop van bewerings van ongerymdhede en onetiese optrede. Die VF Plus en adv. Alberts het dit geïnisieer en gedryf nadat die media daaroor berig het en honderde ontevrede klublede van regoor die land by die VF Plus aangeklop het om hulp.

Die ondersoek wat nou voltooi is, het die vergrootglas laat val op 41 van die land se voorste en bekendste vakansieklubs.

Adv. Alberts sê hy is verheug oor die verloop van die saak, en hy hoop dat dit oplossings en gemoedsrus sal bring vir honderde mense landwyd wat daardeur geraak is - baie van hulle sukkelende pensioenarisse.

“Dit was ook verblydend om te sien dat die vakansieklub-industrie konstruktief meegedoen het aan die ondersoek en uit eie geledere aanbevelings gedoen het om probleme in die industrie uit te lig.

“Hierdie sukses is ‘n bewys dat sake van gemeenskaplike belang, veral waar mense nie waarde vir geld kry nie, wel effektief deur die VF Plus behandel kan word,” sê adv. Alberts.

Van die kwessies wat ondersoek is sluit in:

 

  1. Die onvermoë van lede om toegang te kry tot geriewe weens ‘n beperkte poel daarvan;
  2. Misleidende advertensies en wanvoorstellings tydens aanbiedings van die produkte;
  3. Onbillike kontraktuele terme; en
  4. ‘n Verbod op die kansellering van die kontrakte en die gevolglike ‘ewigheids’-aard daarvan.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403