Verbruikerskommissie maak vordering met aanbevelings rondom vakansieklubs

2015-03-31
Adv Anton Alberts

Die hoofregsadviseur van die Verbruikerskommissie het die VF Plus vandag verwittig dat ʼn groot groep vakansieklubs reeds gedagvaar is om weens beweerde wanpraktyke voor die Verbruikerstribunaal te verskyn, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir handel en nywerheid.

Adv. Alberts sê die volgende groep klubs, wat een van die vyf grootstes in Suid-Afrika insluit, gaan binnekort ook gedagvaar word om te verskyn. Bevindings wat die tribunaal in die proses sal maak, sal bindend wees op die hele bedryf.

Hy sê die kommissie gaan die tribunaal onder meer vra om alle kontrakte wat nie ʼn kanselleringsklousule het nie en dus ewigdurend is, ongeldig te verklaar.

Beslissings wat reeds geneem is, moet ook op ander kontrakte van toepassing gemaak word, en veral Artikel 42 van die Wet op Verbruikersbeskerming rakende bedrieglike skemas en aanbiedings.

Ook die puntestelsel-konsep sal onder die vergrootglas geplaas word aangesien daar geen wetgewing bestaan wat klubs hiervolgens reguleer nie.

Volgens adv. Alberts is punte niks anders nie as die uitreik van koeponne in die plek van geldwaarde en in die Suid-Afrikaanse geldstelsel het dit geen waarde nie. Dit beteken in effek dat ʼn mens geen waarde kry wanneer jy punte koop nie.

“Elke persoon wat punte gekoop het, moet dus die reg hê op eienaarskap van vaste bates van klubs. In die praktyk gebeur dit egter dat bates in trusts geplaas word en dat net enkele persone wat die klubs bestuur, daaruit voordeel trek. Volgens die kommissie is dit opsig self ʼn bedrieglike skema.

“Die VF Plus is bly dat die punt bereik is waar die tribunaal binnekort met verhore kan begin om sodoende ʼn einde te bring aan hierdie lank uitgerekte sage,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403 / 083 419 5403