Valke gaan ondersoek instel na onreëlmatige Pelgrimsrus-huurtenders

2014-04-16
Adv Anton Alberts

Die ingryping verlede jaar van die VF Plus oor onreëlmatighede met huurtenders op Pelgrimsrus, het nou daartoe gelei dat die Valke ‘n hoëvlak-ondersoek gaan doen na moontlike bedrog waarby amptenare betrokke was, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Volgens adv. Alberts is dit die uitvloeisel van ‘n klag wat die VF Plus op 6 Julie verlede jaar by die Openbare Beskermer (OB) ingedien het namens 17 eienaars van sakeondernemings op die geskiedkundige myndorp wie se huur op kort kennisgewing opgeskort is.

“Die feit dat die polisie se voorkeur-ondersoekeenheid vir ernstige misdaad die saak gaan ondersoek, dui op die erns van die klagte en die hoë profiel van die persone wat betrokke is.

“Dit wys ook weer eens onteenseglik hoe hard die VF Plus baklei vir reg en geregtigheid, selfs op plaaslike vlak waar mense en hul belange te na gekom word.

“In hierdie geval is sakemanne op die dorp net 30 dae tyd gegun om hul winkels te ontruim sodat nuwe huurders hul persele na ‘n beskimmelde tenderproses kon oorneem. Nuwe kontrakte is glo teen ‘belaglik lae huurgeld’ aan nuwe huurders toegeken.

“Baie van die nuwe huurders het dadelik hul huurkontrakte aan die oorspronklike huurders probeer terugsmous, wat duidelik wys dat die tenderproses misbruik is om vinnig geld te maak sonder om daarvoor te werk,” sê adv. Alberts.

Die OB het in haar ondersoek bevind dat die tenderproses verskeie onreëlmatighede bevat en die VF Plus het dienooreenkomstig klagte van bedrog en korrupsie teen die betrokke amptenare, wat in die OB se verslag gemeld word, ingedien.

Mpumalanga se departement van openbare werke, paaie en vervoer het intussen die omstrede tenderproses op aanbeveling van die OB geskrap en dit moet van voor af gedoen word.

Adv. Alberts sê die aangeleentheid is ‘n groot oorwinning vir sakelui van die dorp.

“Die VF Plus is saam met die sakemanne verheug oor die verloop van sake. Die nuwe tenderproses sal ook noukeurig dopgehou word om seker te maak dit verloop hierdie keer eerlik en deursigtig,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403