Tyd het aangebreek vir politieke wil om die SANW reg te ruk

2015-06-04
Dr Pieter Groenewald

Die kernprobleem van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is finansies, en die gebrek aan ‘n politieke wil om dit reg te stel, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor verdediging.

Dr. Groenewald het vandag met die Verdedigingsoorsigdebat gesê die huidige oorsig is slegs die tweede sedert 1994.

Hy het gesê indien die weermag se werksaamhede in ag geneem word, soos sy betrokkenheid by vredesoperasies in Afrika, is dit duidelik dat die weermag ten minste 2% van die land se Bruto Binnelandse Produk (BBP) daarvoor benodig en ook so aanbeveel word deur die oorsig.

Volgens dr. Groenewald is die huidige begroting van die weermag sowat R45 miljard met die aanbeveling dat ʼn addisionele R55 miljard bygevoeg word

“Jaar na jaar met die verdedigings-begrotingsposte stem almal saam dat meer geld nodig is. Die tyd het nou aangebreek dat daar ʼn politieke wil moet wees om dit uit te voer. Nie net van die minister nie, maar van die ANC-regering.

“Die regering moet egter besef daar kan nie van die tesourie gevra word vir nuwe wapentuig as bestaande wapens soos die Gripen-vegvliegtuie in store weggebêre is nie. Die tesourie se antwoord sal wees dat die weermag geld gery het, maar dit nie goed gebruik het nie.

Oor ‘n aanbeveling van die verdedigingsoorsig dat die staande gesamentlike komitee oor verdediging en die portefeuljekomitee oor verdediging saamgevoeg moet word in een komitee, word ondersteun. Weens die feit dat die portefeuljekomitee dit afgekeur het, sal die VF Plus teen die komitee se verslag stem, het dr. Groenewald gesê.

“Die VF Plus sal daarom teen die verslag op die ordelys stem, want om twee komitees te hê, is onnodig en ʼn vermorsing van geld,” het dr. Groenewald gesê.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403